„1914 – Die sogenaamde Rebellie wat ek ’n gewapende protes noem teen die SAP Regering.”


Hierdie is die elektroniese weergawe van wat Dirk Jacobus Winterbach (ind00030) in November 1965 geskryf het.

Dit is (woordeliks) saamgestel deur my, sy kleinseun, Tobias Johannes Winterbach gedurende Julie 2003. Die oorspronklike geskrif is in die besit van my neef Dirk Jacobus Winterbach, ook kleinseun van my oupa Dirk wat die stuk geskryf het.

Onder volg ’n gedeelte van die relevante geslagsregister:

Stamboom van DJ Winterbach

 


NOTA: Die stuk is woordeliks hier geplaas soos wat dit oorspronklik geskryf is. Ek maak byvoorbaat verskoning vir woorde wat sommige lesers dalk aanstootlik sou vind, maar só is daar gepraat in die tyd waarin dit geskryf is.


      Deur die Liefdevolle Genade van ons Hemelse Vader skrywe ek hierdie herinneringe van my, wat gedurende die Rebellie van 1914 gebeure het. Dit sal seker vir my kinders en kleinkinders waardevol wees; ek hoop hulle sal ander se beskrywinge van die Rebellie ook lees, wat breedvoerig die oorsake sal beskrywe asook die verklaring van die regterlike en parlementêre Kommissies.

      Dit was ’n onstuimige tyd, die gemoedere was hoog gespanne, niemand weet wat sy medemens se gevoelens is nie. Pas twaalf jaar gelede was die tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) teen die Engelse afgespeel. Ons was nog bitter en kon maar nog nie vergeet; my oudste Suster, Maria en twee van haar kinders, is binne ’n paar dae na mekaar in Middelburg Tvl. se konsentrasiekamp oorlede.

      Nou is daar oorlog in Europa, tussen Engeland en Duitsland. Ons leiers in ons land, onder meer, Generaals Botha en Smuts, wou graag Engeland help. Die eerste besluit in die Parlement was dat ons Burgers nie buite ons grense sal gestuur word nie. Later besluit Genl. Botha en Smuts om Duitswes Afrika (Namibië) aan te val met ons Burgers. Toe was daar openlike protes en dinge het begin lelik lyk, ten spyte van raad van ons ou vegsmanne soos Pres. Steyn, Generaals de Wet, De la Rey, C.J. Beyers en talle andere. Verskoon my as ek hier aanhaal wat Genl. Hertzog voor die parlementêre kommissie van ondersoek na die oorsake van die Rebellie van 1915 verklaar het:

”The question of independence is one that has been, I suppose, in the minds of people since peace, in an academic and theoretical way. I do not think there is one man in South Africa who does not believe that eventually, in 50, 100 or 500 years’ time, we are going to have independence. That! I think, (especially amongst the Dutch-speaking people of the Union) has always been, and is today, their hope – and after all that is the highest hope any nation or people can entertain – namely independence.”

      ’n Engelse skrywer (L.E. Neame) moet dan ook konstateer: ”To think that the South African Dutch would readily forget the grievances and the ideals of a hundred years, was to misread their dogged characters.

      Toe kom die botsings tussen Genl. Botha en Genl. Hertzog; laasgenoemde is uit die kabinet gelaat met die tweede samestelling. By Genl. Hertzog en sy volgelinge het twee oortuigings begin posvat: dit was nutteloos om met die Engelse te probeer saamwerk, tensy hulle bereid was om die regte van die Afrikaner te erken; die verhouding van die Unie tot Brittanje rus op ’n grondslag wat onverenigbaar is met die Afrikaanse idee van vryheid. Wat Genl. Hertzog persoonlik beoog het, was nie die uittrede van die Unie uit die Britse ryk nie. Op hierdie stadium – en in latere jare het hy tot hierdie strewe teruggekeer – het hy slegs daaraan gedink om vir die Unie meer vryheid te verkry en die vryheid op ’n behoorlike jurisdiksie-grondslag te plaas.

      Op 7 Januarie 1914 het ’n groot aantal persone in Bloemfontein byeengekom. Hier is besluit om die Nationale Party te stig. 4 Aug. 1914 breek die oorlog uit tussen Engeland en Duitsland en toe was die vraag: wat gaan die Unieregering doen? Daar was mense wat gemeen het dat ’n besliste optrede uit die staanspoor nodig was. Onder hulle was Genl. de la Rey. Binne ’n dag of twee nadat Brittanje op 4 Augustus tot die oorlog toegetree het, is kommandeerbriefies in die Lichtenburg distrik rondgestuur met ’n bevel aan die burgers om op 15 Augustus met hul wapens en mond-provisie vir agt dae op Treurfontein te verskyn. Dit was eg na die ou Republikeinse trant. Op 11 Augustus het die magistraat van Lichtenburg, mnr. J.C. Juta, van die saak gehoor en die regering dadelik daarvan in kennis gestel.

      Genl. Beyers is versoek om sy invloed by Genl. De la Rey te gebruik ten einde nie tot verkeerde stappe oor te gaan nie. Genl. Kemp was toevallig in Lichtenburg en het toe met Genl. De la Rey gaan praat. Maar Genl. Kemp se waarskuwing het op dorre aarde geval. Genl. Beyers het ’n telegram aan Genl. De la Rey gestuur om hom te versoek om hom eers Vrydag op sy kantoor te Pretoria te kom spreek voordat hy Saterdag die vergadering op Treurfontein gaan toespreek. Intussen het ook Genls. Botha en Smuts 'n versoek gerig aan Genl. De la Rey om na Pretoria te kom.

      Die baie versoeke het sy uitwerking gehad en op 13 Augustus was Genl. De la Rey in Pretoria waar hy op die stasie deur Mev. Botha ontmoet is en dadelik na haar woonhuis geneem voor iemand anders nog 'n kans had om 'n woord met hom te wissel. Genls. Botha en Smuts en Min. H.J. de Wet en Genl. Schalk Burger het die grootste gedeelte van die nag probeer om Genl. De la Rey tot ander insigte te bring. Hy is toe terug na Lichtenburg en het die burgers toegespreek en hulle gemaan om voorlopig 'n besadigde houding in te neem, wat vir almal teleurstellend was. Intussen het die Britse magte uit Suid-Afrika vertrek terug na Engeland.

      Al die Kommandante van die Transvaal en leiers van skietverenigings is byeen geroep, waar offisiere van die staande mag ook aanwesig was. Die doel van die regering was, om te verduidelik welke maatreels getref sal word, noudat die Britse regeringstroepe uit Suid-Afrika verwyder is. Die ander dinge, (soos die aanval op Duits Suid Wes Afrika) wou hulle nie 'n woord uiter nie, wat baie ontevredenheid veroorsaak het. Want julle kan my glo daar was baie stories versprei dat die Duitsers al oor die grense is en dat hulle grootse invalle beplan.

      Oefenkampe word opgerig: Genl. Muller skryf daaroor as volg: (O.a ontmoet ek ook vir Genl. Coen Britz en vra hom „of ons dan ook moet gaan Duitsers skiet.” Opgewonde sê hy: „Ek gaan geen Duitsers skiet nie, want ek het geen Duitsers verloor nie.” ) Genl. Muller skryf verder: „Met 'n paar uitsonderings was die hele vergadering teen inmenging in die oorlog.”

      So het dit geskommel en gevoel-voel wat die algemene gevoel was, totdat daar 'n besliste verdeling was; die Regeringsgesindes aan die een kant en die Republikeinsgesindes aan die ander kant. Genl. De la Rey het 'n besoek afgelê by die Potchefstroomse oefenkamp en daar met Genl. Kemp afgespreek dat, indien die parlement sy goedkeuring sou heg aan die plan om Duits Suid Wes Afrika aan te val, hy na die kamp sou terugkeer om te help bewerkstellig vir die ontslag van die offisiere.

      Daar was 'n atmosfeer van afwagting vir groot dinge wat sou gaan gebeur. Genl. Kemp en baie van die offisiere het in gesprekke ronduit gesê dat hulle nie aan 'n aanval op Duits Suid Wes Afrika sou deelneem nie. Tot dusver was daar nog nie sprake van Rebelleer nie, enkele in die oefenkamp het wel gesê as Genl. De la Rey terugkom gaan hulle die Vierkleur hys.

      In die Parlement, wat juis nou in sitting was, het Genl. Hertzog duidelik uiteengesit waarom hy teen die voorgenome ekspedisie was. Ten einde die gevoelens van die manskappe te toets, het Genl. Kemp op die môre van 15 September drie van vier regimente op 'n parade toegespreek. Hy het gevra hoeveel van hulle gewillig was om aan die ekspedisie teen Duits Suid Wes Afrika deel te neem. Van die byna duisend man het slegs 130 hulle gewilligheid te kenne gegee, terwyl 800 geweier het. Aldus van die stem van hul manskappe versekerd, kon die offisiere die koms van Genl. De la Rey afwag.

      Teen alle verwagting in het Genl. De la Rey hom nie met die trein oor Kimberley na Potchefstroom begeef nie. Hy het oor Bloemfontein gegaan en in Johannesburg op 15 September afgestap. Genl. De la Rey het reeds sedert sy vertrek uit Kaapstad bemerk dat hy deur speurders agtervolg word. Na groot sieleworsteling het Genl. Beyers besluit om sy betrekking as Kommandant-Generaal neer te lê, aangesien hy hom met die besluit om Duits Suidwes Afrika aan te val nie kon vereenselwig nie. Genl. Beyers het sy bedanking slegs as 'n protes teen die besluit van die Parlement gesien. Genl. Beyers het hom laat oorhaal om per motorkar met Genl. De la Rey mee te gaan na Potchefstroom. Genl. Beyers het alleenlik gegaan met die doel om die manne in die kamp te gaan verduidelik waarom hy sy betrekking neergelê het. Die twee manne het egter nooit in Potchefstroom aangekom nie, want in Johannesburg waar die polisie besig was om na 'n rowerbende te soek, is op die motorkar waarin die twee manne gereis het, gevuur en Genl. De la Rey is gedood. Dit het groot verwarring gebring en onsekerheid.

      Toe die oorskot van Genl. De la Rey op 20 September in Lichtenburg ter aarde bestel is, het die toestand vir die regering daar nie so alte rooskleurig uitgesien nie. 'n Paar duisend mense het op Lichtenburg saamgekom. Onder die aanwesiges was ook Genls. Botha en Smuts, De Wet, Beyers en Kemp. Eersgenoemde twee se ontvangs was nie van die aangenaamste nie. Twee persone het selfs aan Genls. De Wet en Beyers die voorstel gedoen om die twee regeringsmanne te vang. By die ope graf het Genl. Beyers op 'n plegtige wyse verklaar dat hy aan geen rebellie dink nie.

      Genls. Botha en Smuts het probeer om die toestand te besweer deur die versekering te gee dat slegs van vrywilligers gebruik gemaak sou word. Genl. Botha het op 28 September op Bankstasie in sy kiesafdeling in die openbaar gaan sê voor 'n groot verhoor (gehoor? ‒ TJW) dat alleen vrywilligers vir die voorgenome ekspedisie gebruik sou word. Van die kant van die Afrikaners wat teen die ekspedisie was, is hierdie versekerings van die regering nooit aanvaar nie. Hulle het besluit om oral protesvergaderings te reël. Die eerste protesvergadering het reeds die dag na die begrafnis van Genl. De la Rey op Lichtenburg plaasgevind. Hier is die volgende besluit byna eenparig aangeneem:

 

„Deze vergadering kennis genomen hebbende van het feit dat de Regering besloten heeft Duits Zuidwest-Afrika aan te vallen en daartoe de bekrachtiging van het Parlement erlangd heeft, dat een deel van de Burgermachten reeds na de grenzen gezonden en slaags geweest zyn, dit alles zonder het volk van de Unie een kans te geven zich hieroor te uiten – verklaart zyn diepe overtuiging dat de vermelde handelingen van de Regering in stryd zyn met
  1. de wil van de overgrote meerderheid van de Uniebevolking;
  2. onze Verdedigingswet; en
  3. onze eervolle Kristelike volkstradities
en smeekt de Regering eerbiediglik stappen te doen om alle offisire krygsoperaties te staken en de Uniestrydmachten terug te roepen. Zy verzoekt eindelik de Regering beleefdelik 'n antwoord voor 30 September e.k. ten einde op 'n volksvergadering overwogen te worden.”

      'n Kommisie bestaande uit Genls. De Wet, Beyers, Kemp en Liebenberg is verder benoem om in die saak op te tree. 'n Telegram met die protesbesluit is na die regering in Pretoria gestuur. daar is ook versoek om die antwoord aan Genl. Beyers te stuur. 'n Antwoord is egter nooit ontvang nie. Die regering het besluit om die saak eenvoudig te ignoreer.

      Voor die parlementêre kommissie het Genl. Hertzog 'n paar maande later verklaar: – Few people can realize the shock that it (die besluit)gave to the Free State. – Genl. Manie Maritz was in bevel van regeringstroepe naby die D.Wes grens. Toe die regering vermoed dat hy nie geheel en al saam met hulle voel oor die saak om Duits Zuidwes Afrika binne te val, word 'n direkte bevel gegee om op te trek. Net voor dit het hy sy bedanking ingestuur as regeringsoffisier wat geïgnoreer was. Nêrens was bewys dat daar sprake was van 'n rebellie en daar was ook nie gevalle wat kon bewys word dat ons voormanne enigsins georganiseer het vir 'n rebellie nie. Dit was 'n protes teen die regering se besluit om ons te gebruik om vir Engeland veroweringswerk te doen. So was dit onder die aandag van Genls. Botha en Smuts gebring; dat die Afrikaners hul Godsdienstige oortuigings geweld moes aandoen ten einde veroweringswerk vir die Britse Ryk te doen, was iets waarteen die gevoelens van die meeste Afrikaners in opstand gekom het. Selfs die blote gedagte om vir die Engelsman veroweringswerk te doen was genoeg om ons woedend te maak. Verstaan goed; daardie tyd wou die Engelse nie saamwerk op gelyke voet nie, want die idee van “British supremancy” was nog diep gewortel in daardie seksie wat neersien op die verloorders en dit was die groot botsing toe Genl. Hertzog ons taal op gelyke voet wou laat erken.

      Eindelik was dit openlik rebellie want die regeringstroepe het begin skiet. Spontaan het klein kommandos gevorm, meestal onafhanklik van mekaar. Naby Pretoria het Genl. J.J. Pienaar en Komdt. Josef (Jopie) Fourie die regeringstroepe 'n paar keer 'n nederlaag besorg. Later is Genl. Pienaar gevang. Eindelik is Jopie Fourie met sy manne ook gevang op 16 Des. 1914. Hy is daarop na Pretoria geneem waar hy deur 'n Krygsraad tot die dood veroordeel is. Nadat Dr. D.F. Malan, Ds. C.A. Neethling en ander Afrikaners tevergeefs by Genl. Smuts probeer het om die vonnis verander te kry, is Jopie Fourie op Sondagmôre 20 Desember 1914 in die Pretoriase tronk gefusilleer.

      Deur die ysere deursettingsvermoë van Genl. Kemp het hy daarin geslaag om met 'n klein klompie deur te dring tot by Genl. Manie Maritz in Duits Suidwes Afrika. 'n Wonderlike prestasie! Hul waagstuk deur die Kalahari vorm een van die glansrykste bladsye in die militêre geskiedenis van die Afrikaanse volk. Dit is 'n verhaal van beslistheid, moed en uithouvermoë.

      In Lydenburg het ons gespanne in afwagting verkeer want daar was 'n gerug dat Genl. Muller met 'n kommando daarlangs sou kom. Daar was aan die regeringskant spesiale polisie ingesweer om die dorp te patrolleer elke nag; kommandos van die omliggende plekke soos Sabie, Pelgrimsrus en andere was alreeds gekampeer op die tentoonstelling gronde. Ek het aan die skietvereniging behoort. Toe kom Veldkornet Willem Lombard met 'n kommandeerbrief (nog in my besit) en stuur my na 'n plaas 9 myl uit die dorp om C.F. van Rensburg en Sam F. Hoffman te gaan kommandeer. Hulle was net besig met die begrafnis van C.F. van Rensburg se vader; ek moes wag tot na die verrigtinge om die manne aan te sê en die brief vir hulle te lees. Ons is toe met omtrent 10 man saam dorp toe want die ander was nuusgierig (sic ) om te weet wat aangaan.

      Toe die dorp nou so woelig was met soldate, burgers en “defence force” knapies, kon ek my nie inhou nie, daar moet poetse op hulle uitgeoefen word. Die eerste: ek bly so 'n ent uit die dorp, Dick Hide kom my haal dat ons twee nooiens na 'n konsert moet neem. Ons gaan met trapfietse tot in die dorp en steek die fietse weg. Voor ons ry, neem ek 'n groot bom “cracker”, 12 duim lank in my lyfband onder die baadjie. Ons kry die meisies en gaan konsert toe. Pouse gaan ons maar loop. Op die kruispad van Viljoen- en Kerkstraat sit ek die bom neer en steek hom aan terwyl die ander aanstap; met 'n oorverdowende slag ontplof hy. Nou was daar 'n reeks van voorafgaande gebeurtenisse wat saamgeval het met (die ) insident van ons bom. In die eerste plek was daar sterk gerugte van 'n kafferopstand. Net 'n halfuur tevore kom 'n sekere Koekemoer uitasem by die aanklagkantoor aan en rapporteer dat 'n impi kaffers deur die rivier gekom en hom aangeval het. Die konstabels en tronkbewaarders was juis op pad om ondersoek in te stel en moes naby die ontploffing verbykom. Die Vrymesselaars het net by hulle vergadering, daar naby, uitgekom en die konsertmense was nog besig in die Kafee! Dink maar net wat 'n verwarring dit veroorsaak het. Ons het die nooiens gou huistoe geneem en kom help soek na die aanvallers van die dorp; maar reguit na ons fietse en huistoe. Twee dae daarna kry ek weer 'n kans. Twee niggies van Dr. en Mev. Weilbach kom van Johannesburg om vir hulle te kom kuier. Dit was die dae toe die Duitsers vir Londen bestook het met die Zeppelin; daar was glad gerugte dat hulle ons ook sou aanval. Ek kry van die groot miskruiers wat 'n horing voor het soos 'n Rhenoster en sit die in 'n dosie en stuur die vir Weilbach se niggies. Hulle sit dit op 'n rak neer en vergeet dit. Net toe hulle aansit om te eet vlie die ding daaruit met 'n woer-geluid. Die klomp het lelik geskrik.

      Die aand gaan ons kuier en ek neem weer 'n bom saam; voor die hek steek ons dit aan die brand, klop en word ingenooi. Na 'n rukkie kyk ons vir mekaar, want die bom gaan nie af nie. Ek maak verskoning dat my sambreel ope is op die stoep en die wind kan hom skep; een dame gaan saam, maar toe ons die voordeur oopmaak sien ek die lont brand net op die laaste en druk die deur gou toe. Daar’s 'n geweldige slag dat die ruite so rittel en die mense gil! Nou ja, toe alles weer normaal was, het ons lekker gelag en gesels. In die militêre kamp was daar ook chaos want die eerste gedagte is: die rebelle val die dorp aan. Hulle het glo die hele nag rondgejaag om te soek. Vroeg die volgende môre sien hulle voor Dr. Weilbach se huis die papiere oor die straat en klop hom wakker en wil weet wat aangaan; hy vlieg daar uit met sy geweer en dreig om hulle te skiet wat hom uit sy nagrus kom stoor.

      Die volgende aand gaan ek deur die spruit agter die tronk langens en naby die kamp se hek, stel ek 'n stuk of vyf van die bomme op 'n ry en steek die lonte aan; voordat hulle ontplof het, was ek al agter die tronk verby. Nou ja, hulle soek nou nog na die rebelle wat 'n sarsie op die wagte ge-vuur het soos hulle meen die geval was. Kort daarna word ons aangesê om op 'n sekere môre 10 uur op die tentoonstellingsgronde te verskyn. Wat nou? Elkeen raai maar wat nou gaan gebeur; of ons moet rebelle gaan skiet en of ons na Duits Suid Wes Afrika gestuur sal word om Duitsers te gaan vang. Die toestand was so, dat jy met niemand kon praat of opinie vra, want daar was soveel verdenkings en wantroue, dat jou beste vriend 'n vyand kan wees. daar was ook baie bangmaak-stories versprei, soos vyf jaar tronkstraf of oorsee gestuur word of selfs doodgeskiet word as ons weier om te gaan waar die regering goed dink. In die onsekere gemoedstoestand gaan ek na die plek waar ons moet bymekaar kom, somaar van my werk af want ek het nog gewerk tot halftien.

      Toe ons daar kom, was daar al verskillende kommandos op die gronde. Ons word beveel om in gelid te staan en wag totdat die offisiere kom. Na 'n uur of wat kom Kom. Piet Swart, Ltnt. Hercules Jansen, Kapt. Fanie Schoeman en andere en een lees die Kommandeerbrief aan ons voor, dat ons opgeroep is om in die Regering se diens te staan en bevele te gehoorsaam om wapen op te neem teen die vyande van die regering.

      In die dertig van ons skree toe, ons weier om die wapen op te neem onder die omstandig-hede! Almal wat toe weier word beveel om eenkant toe te staan, weer word aan ons gevra om ons besluit te heroorweeg, maar ons het klaar besluit en ek moet sê ek was baie verbaas om te sien wie my maats was. Ons word dadelik onder militêre arres geplaas en in die Tentoonstellingsgebou op die verhoog gehok, met wagte om ons. Die heel dag was daar pogings om een vir een, afsonderlik, te beweeg om maar by die regeringstroepe aan te sluit. Naderhand word daar dreiging en vreeslike gevolge vir ons voorgehou.

      Laat die middag kom Komdt. Piet Swart self met ons praat; ek kry toe geleentheid om met hom te praat en te vra of hy my nie sal toelaat met 'n wag na my huis te gaan om my ou moeder te groet en reelings te tref in geval ons lank weg sal wees. Nou moet ek eers verduidelik dat ek die enigste sorg was vir my moeder en twee meisie kinders en ons het maar maandeliks van hand tot mond gelewe. As ek dan vir 'n onbepaalde tyd moet weg wees, sal dit nie 'n aangename gedagte vir my wees nie. Kort te vore het ek 'n erf gekoop en moes nog maandliks afbetaal; my salaris was maar nege pond per maand waaruit ons moes lewe en die bykomende dinge ook nog bybring. Die Kommandant gee toe somaar so 'n dwars antwoord op my versoek; „Jy het hierdie ding op jouself gebring; jy moet maar toesien, ek sal jou nie verlof gee nie."

      Ek sê toe: „Goed Kommandant, dan gaan groet ek my moeder sonder jou toestemming.” Hy het die wagte ekstra bevele gegee en is daar weg. Toe dit donker word die aand glip ek tussen die wagte deur en is weer agter die tronk verby en deur die spruit huistoe. Daar gegroet en alles aan die Genade van ons Hemelse Vader gelaat en vertrou dat Hy sal sorg, want Hy het ons nog nooit verlaat nie. Van die huis is ek dorp toe om my neef, Angus Jansen te gaan sien. Ek het goed gestaan vir 'n bewys op die bank vir hom 25 pond en hom te verduidelik hoe sake staan en tog nie die moeilikheid ook nog op my moeder te laat val nie. Hy het my, op sy ere woord, belowe om die bedrag te vereffen in die bank, maar dit nooit gedoen nie. Toe ek terugkom moes ek uit my niks dit ook nog betaal, want my “job” het ek ook verloor toe ek terugkom. Ek moes 'n ruk op die pad gaan werk. Die twee brûe, net buite die dorp, op die pad na Pelgrimsrus, het ek gehelp bou.

      Toe ek van my neef af kom, loop ek by die aanklagkantoor aan, waar van my vriende as spesiale wagte van die dorp ingesweer was. Ek vertel hulle, Andrew Joubert en Lens Middel, dat ek weggeloop het en as hulle 'n naam vir hulself wil maak moet hulle my arresteer en kamp toe neem. Hulle het my nie geglo nie, toe het ek maar aangestap. by die gebou gekom, gaan ek by die groot deur in wat aan die teenoorgestelde end was van die verhoog. (Dit het baie gereën, die regering het toe nog nie tente genoeg gehad vir sy troepe nie, met die gevolg dat die gebou gebruik was vir die troepe as slaapplek). Dit was donker en ek moes oor die slapende kêrels stap met my modderskoene en ook maar 'n bietjie onverskillig; hier een raakgetrap daar teen een skop en struikel. Wel te verstaan, was daar skelwoorde en gemompel en gevra wie dit was wat in die nag hier oor hulle klouter. By die wag gekom het ek maar net op die verhoog geklim en tussen my maats gaan lê. Wat kon hy doen? Raas en skel help niks; hy was maar net bly dat ek terug was. Die volgende môre tel ek my skoene op wat vol modder was en sê: „Mens kan sien ek was dorp toe”, haai toe was daar omtrent ses of sewe ander wat ook weggeloop het en weer teruggekom het. Die aand is ons op die trein met 'n wag. Louwtjie Vosloo was in bevel. Op Belfast moes ons 'n paar uur wag vir die trein wat van Lourenço Marques (Maputo) af kom. Op dieselfde trein wat ons mee gekom het, was 'n vriendin. Ek het weer die wagte ontglip en die vriendin en ek het 'n lang ent gaan stap en lekker gesels en die tyd het toe gou omgegaan wat ons moes wag vir die ander trein.

      Ek vertel maar net wat gebeur het, nie om die „eie ek” te laat uitblink, want alles was so onnatuurlik! Ons eie mense moet ons oppas as kwaaddoeners waar ons niks gedoen het nie. Die wagte het dit ook in daardie lig beskou. Op Pretoria klim ek doodgewoon van die trein en stap aan om koffie te gaan drink; intussen het die Pretoria wag daar aangekom om die prisoniers oor te neem. Toe was daar moeilikheid want hulle wis nie waar ek was nie. gelukkig kom ek gou die ding agter; ek glip toe maar so tussen die klomp mense verby in die trein en kom daaruit of daar niks gebeur het nie.. Ons is na Johannesburg en van die stasie af gemarsjeer na Booysens se kamp wat toegespan was met 10 voet hoë draad. Ons was 'n paar dae daar toe het ek my eerste groot teleurstelling. Ons sien 'n wag met 'n prisonier aankom en was baie nuuskierig om te sien wie dit is en staan nader na die hek se kant. Dit was my beste vriend, Freddie Simonsen, wat weer sy goeie vriend, Gysbert Taute, kamp toe bring.

      Freddie en ek het jare langs mekaar gebly, saam skoolgegaan en saam opgegroei. Toe hy by die hek kom, groet ek en vra hoe dit by my huis gaan, maar hy wou my nie antwoord want ek is mos aan die anderkant. Sy tante het in Booysens gebly; die vorige jaar was ek in die geleentheid om die familie 'n groot guns te doen. Hy vertel hulle toe dat ek in die kamp is. Die volgende dag loop hulle daar buitekant die draad verby; ek stap nader en groet en vra of hulle na my soek. Die antwoord was: „ons ken jou nie, terwyl jy daar binne die draad is” . Wat is die mens?

      Die Gysbert Taute wat Freddie kamp toe gebring het, had 'n broer Frikkie wat 'n baie noue ontkoming had in die Engelse oorlog 1899 - 1902. Daar was 'n hewige geveg waar Boer en Brit naderhand handgemeen was, Frikkie se perd was doodgeskiet onder hom; toe jaag 'n lansier op hom af met die lanspunt op hom gerig. Sy geweer was leeg en hy had nog nie kans om weer te laai, toe val hy neer agter 'n klein miershoop, skrale skuiling onder die omstandigheid want die Tommie was op hom. Hy koes, maar die lanspunt vang hom net bokant die oog en skram, deur die vel, langs die oor verby, 'n diep sny. Half bedwelmd, met 'n straal bloed oor sy gesig, moes hy gou sukkel om 'n patroon in sy geweer te kry want die soldaat het alweer sy perd gedraai en kom weer blitsvinnig aangestorm. Frikkie kon skaars sien en was swak van die skok en bloedverlies, maar tog slaag hy daarin om die skoot af te trek en tref die Tommie wat amper bo op hom val. Of die Engelse hom toe daar gevang het weet ek nie verseker nie.

      In die kamp het ons begin organiseer om onsself te vermaak en die tyd om te kry. Ons het stokgetrek, skilpadgetrek, hoenderhaan geskop, hoog- en vergespring ens. Eendag het ek gesien dat een van my maats, Jan Fourie, flou word; ons moes laaf en vryf en alles probeer om hom by te kry. Dit het so gebeur: 'n paar was besig om ver te spring, ons het nie graaf of pik om die grond los te maak waar ons spring en moet dan op die harde grond land. Met die verspring breek een man se been en dit is met die aanskou daarvan dat Jan toe flou word; hy was 'n groot fris en onverskillige man en dit was vir ons amper ongelooflik.

      Ons het tentpale aanmekaar gebind om mee hoog te spring. Twee van ons het uitgeblink bo die ander. Een dag tel die offisier verkeerd en was twee man kort; toe soek hulle na die twee wat so hoog spring, maar dink nie daaraan dat met tentpale was dit onmoontlik om oor 10 voet doringdraad te spring nogal in die nag. Ons lag hulle toe maar net uit.

      Die twee niggies van Dr. Weilbach het ons kom besoek in die kamp. Besoekers kom by die hek dan kan die wat hulle wil sien 'n paar tree buite die hek kom om met hulle te praat.Die offisier in bevel van die hekwagte, was 'n jong Engelsman en hy merk toe op dat die deftige dames daar op die grond by ons sit en gesels. Toe kom hy en neem ons na sy tent en maak verskoning dat hy nie gedink het dat daar sulke ordentlike mense tussen die prisoniers was nie. Die dames het toe lekker gekuier en het weer gekom. Ons het weer lekker gelag oor die bom en die Zeppelin in Lydenburg.

      Die regering was feitlik opgeskeep met ons, daar was meer as duisend in ons kamp; toe kom daar 'n bevel dat ons moet huistoe gaan. Elkeen kan voor sy distriksmagistraat gaan beswaar indien, die redes waarom ons nie by die regeringstroepe aansluit nie. As die magistraat die besware goed vind kan jy by die huis bly anders word jy weer teruggestuur na die kamp. Tom Naude (later die Speaker van die Parlement en later Eerste Minister) was ook in Booysens se kamp. Al was dit verbied was daar tog 'n portret van anderkant die draad geneem van Tom Naude en sy Pietersburgers. Gelukkig staan Luitingh (?) en ek daar eenkant en kom ook op die portret; ek het nog die portret in my besit. Later (26 Mei in die jaar 1949) het die portret in die Brandwag verskyn. Wel later (meneer die Speaker) Tom Naude en sy hele klomp is ook huistoe en nie een het weer terug gekom nie want met Tom se invloed het hy almal vrygespreek. Van die ander wat huistoe gegaan het om besware te gaan maak, is byna almal weer teruggestuur. 'n Klompie van ons het seker deur die ding gesien en wou nie eens die moeite doen om te gaan nie. Hulle het ons met bajonette gedreig en wou ons maak gaan, maar die klompie hardekoppe bly sit. Een snaakse geval wil ek hier vertel: ene Hartzenberg en 'n maat van Lichtenburg, was ook teruggestuur met 'n wag. In die trein het hy en die wag stry gekry; die wag sluit hom alleen in 'n kompartement toe. Hy klim deur die venster na 'n ander kompartement met die trein in volle vaart; toe die wag gaan kyk, was hy weg – die venster is oop en nou dink die wag hy het uitgespring en wou die trein stop om terug te gaan. Iemand rapporteer toe dat hy in die ander kompartement sit. Op Park stasie klim hulle drie af en marsjeer deur die strate op weg na Booysens se kamp. Die hele pad loop hulle en rusie maak. Die einde van die saak, nie baie ver van die hek raak hulle handgemeen, daar is 'n stoeiery in Johannesburg se straat. Die ander kêrel neem toe die wag se geweer en stap aan hek toe. Daar gekom oorhandig hy die wapen en vertel wat daar aangaan; hulle stuur toe 'n ander wag van 'n paar soldate om die twee te gaan haal.

      'n Ruk na almal nou weer terug was, stuur die regering 'n duisend rebelle wat in die “Kaffir Compounds” van Kimberley was, ook na Booysens se kamp. Ons het so 'n komittee gevorm en 'n klompie gekies om hulle te help om tente te kry en seksies wat hulle verkies bymekaar te bring. Ons het baie hard gewerk om hulle 'n soort van welkom te besorg. Laat die middag merk ek onraad; daar is op 'n snaakse manier na my gekyk en 'n soort van vyandige houding merk ek op. Ek vra toe aan een van ons ouens, wat gaan aan; hy kom my toe net waarsku dat die klomp Kimberley-rebelle dink dat ek 'n regeringsman is, en wat soek ek hier in die kamp tussen hulle. Dit is die dank vir al my moeite wat ek kry, want hulle wou my net oor die draad gooi, voor hulle uitgevind het dat ek ook een van ons mense was. Daar ontmoet ek 'n eie oom van my vir die eerste keer en was ek bly. Ons het toe dae lank gesels. As die pos kom, goed verstaan (ons was toe by die tweeduisend in die kamp), dan word by die hek geskree: „briewe!” Almal verwag briewe en storm hek toe; die agterstes druk vorentoe en die voorstes is al teen die draad en die bevel is dat niemand nader as 'n tree van die draad mag kom nie. Die gevolg is, dat die Joodjies wat buite wag staan, te gretig is om hulle bayonette te gebruik en dan somaar links en regs deur die draad steek. Daar is nie padgeekans nie, want die druk van agter is groot met die gevolg dat 'n paar manne lelike snywonde gekry het. Toe is die boere kwaad en eis om die hoof van die wag te spreek. Hulle stel toe ons saak en waarsku, dat as so iets weer gebeur ons die draad plat sal loop en die troepekamp ook. Net die volgende dag het 'n klompie van ons lekker gelag; ons sit daar op klippe en stompe naby die draad en gesels, van die ouerige mans was maar lugtig. Schalk Schoeman is so 'n droë grapmaker, as die son in die westekant is, sal hy sy hoed skuins aan die oostekant van sy kop sit met sy pyp in die mond. So sal hy doodstil staan vir 'n lang tyd en die wêreld beskou of dit aan hom behoort.

      Die wag loop heen-en-weer verby buite die draad; dit het baie gereën die tyd en slote gespoel onder die draad. Skielik sal Schalk deur die sloot seil agter die wag aan, maar voor hy omdraai is Schalk al weer terug en staan en suig aan sy leë pyp of hy 'n pilaar is. Dit was te veel vir die oumense wat daar sit en die toneeltjie aanskou. Hulle spring op en nael na hulle tente en skree: „Hulle gaan skiet!” Dan weer, gooi een of ander kwaaijong so teen skemer 'n kombers oor hom met 'n stok aan die een hoek van die kombers vasgemaak en 'n stok aan die teenoorgestelde hoek. Nou lyk dit na 'n volstruis, hy storm dan op die klompies-klompies en julle sal verbaas wees hoe die verbeelding toeneem; party loop so al wat hulle kan om van die gedrog weg te kom en skree daarby soos kinders. Ons wat dit al gesien het, geniet dit terdeë en lag vir al die mannewales wat so 'n volstruis uithaal.

      Elke môre net soos ons wil eet, kom 'n jong offisiertjie met 'n gewapende wag die kamp in en met sy rottang slaan hy op die tente en beveel ons om in te val om getel te word. Dit neem goed 'n uur voordat almal in krom rye staan, want dit was hopeloos om van die rou boere te verwag om binne 'n paar dae soldate te wees. As hulle een ry klaar getel het stap party tussen die ander rye in dan word die Tommie bloedrooi in die gesig en beveel die soldate om met die bajonette hulle in die rye te hou. Die arme goed het dit probeer maar toe jy sê „knipmes” was hulle almal ontwapen. Toe laat ons die hoof weet as daar weer gepwapende soldate binne in ons kamp kom, sal daar moeilikheid wees; dit was ook die laaste keer. Hulle probeer toe om ons te tel soos jy skape tel, twee vorm 'n hek dan moet die rebelle deur die hek stap om getel te word, wat wou! Die jong klomp begin daar agter blêr en rondspring en storm gelyk op die hek af, hoe kan jy nou huishou met sulkes. Daar was 'n sekere majoor Kroon wat in die Engelse oorlog aan Boerekant geveg het en gevang was deur die Engelse. Oor een of ander oortreding was hy tot die dood veroordeel en het te staan gekom voor 'n vuurpeleton; op die laaste nippertjie het daar pardon gekom. Nou vir een of ander rede het hy aan die regering se kant gestaan, seker maar saam met Genl. Botha geveg. Wel, hy het enkele Sondae vir ons kom diens hou in die kamp want dit wil voorkom of die Predikante maar vesigtig was en nie in die openbaar wou preek nie. Ek het my „Cornet” saam gehad en ons het elke middag Hallelujaliedere gesing met die begeleiding van die blaasinstrument; dit het nogal byval gevind. Vir baie van ons was dit bitter hard om op die nat grond te slaap, want dit het baie gereën daardie jaar en ons was dit nie gewoond nie. Ek het wel 'n klomp komberse gehad en nogal vir my oom ook twee gegee. 'n Boer maak 'n plan, so het ek planne gemaak om meer komberse in die hande te kry.

      Eindelik word so 'n driehonderd van ons op die trein gelaai en weggestuur; ons was eers voor 'n militêre krygsraadhof. Gey van Pitius het ons Lydenburgers verdedig, maar ons was gevonnis vir twaalf maande opsluiting. Nou waarheen; ons raai almal anders. Op De Aar het die trein lank stilgehou. Ons is aangesê om uit te klim en vir oefening moes ons al in die rondte loop. 'n Klomp toeskouers het daar om gestaan en opmerkings gemaak; ek sê toe aan my maat, as ons weer by daardie Engelsman verby kom, gaan ek uit gelit spring en hom aan die keel pak. Gelukkig vir hom word ons gehalt om te rus. Toe is ons terug in die trein voor ons weer by hom kom.

      Party van ons moes in stink perdekuile slaap. Chris Jankowitz was nog een nag baie siek en nie een van ons kon help nie, en die wagte hou hulle doof. Ons het laat die middag by Upington gekom en nou met die pont oor die rivier. Dit was al nag toe ons halt en moes onder die blote hemel komberse oopgooi en slaap. Die nag gee my maag 'n draai; ek spring op en wou so 'n ent eenkant toe; die wag keer my, al wat ek kon doen, was om maar op sy skoene te laat los. Hy mag my nie daaroor doodskiet nie.

      Die volgende dag moes ons die tente van 'n troepe afdeling gaan afslaan, toe ons by die eerste tent kom, was die persoon nog besig om aan te trek, toe hy uit die tent kom sien ons dat hy 'n kaptein was, een van ons manne erken hom dadelik en sê: „Haai, dit is ou Duckie, onthou jy dat jy vir my tou gelei het toe jy nog 'n kaalvoet seun was?” Die Kapt. vererg hom en draai om en gaan weer in die tent en ons moes wag tot hy afgekoel het. Hy was seker verneder, want hoe durf 'n rebel hom so aanspreek voor sy troepe, ons ken hom as Duckie Vogt en het saam met hom crieket (sic ) gespeel.

      Die volgende dag word ons aangesê om die leivoor te gaan oop grawe want die wind waai dit toe met sand. Toe ons voor die Majoor se gebou kom steek ons vas en wil nie 'n tree verder, voor hy nie uit kom en ons besware hoor nie, ons vertel hom toe dat ons gevonnis was vir twaalf maande opsluiting en nie harde arbeid nie. Hy sê toe ons kan terug gaan kamp toe dan sal hy in verbinding tree met die gesag en uitvind hoe sake staan, ons is toe terug.

      Die volgende dag word ons op 'n bondel gejaag om vir orders te wag, die gewapende wag staan om ons vyf tree van mekaar, toe kom daar 'n offisier aangejaag en ruk sy revolwer uit en skree “shoot, shoot”, maar dit was pure bluff, toe beveel hy dat twee, twee op 'n slag na 'n tent so 'n vyf honderd tree verder, geneem word. Nou wat nou, ons staan en wag tot die eerste twee terug kom, hulle vertel toe dat daar sowat ses offisiere by 'n tafel sit en alle besonderhede afskryf van waarom jy hier is en waar jy vandaan kom ens. Toe fisinteer hulle hom en alles weg (hulle het hom deurgesoek en al sy besittings weggeneem). My maat gee vir my sy twintig goue ponde en ek steek dit weg in my baadjie mou se soom en my kraag, die het hulle nie gekry nie. Toe dit my beurt is, kom ek by die tafel en neem my knipmes, skêr en 'n paar silwer muntstukke en lê dit voor. Hulle vra is dit al, ek antwoord nie eers en neem my mes en skêr en geld en steek dit in my sak en draai om en stap uit, hulle was seker so verslae dat hulle doodstil sit en niemand sê 'n woord.

      Toe kom die antwoord, ons moet luister na die wag totdat daar besluit word, ons is toe gestuur oorkant die rivier om trokke af te laai en op die pont te laai, dit was sakke mielies en voorrade vir die troepe. Terwyl ons daar besig was het een die leë trok se briek los gemaak en ek was net besig om iets swaar aan te gee vir die een bo op die trok toe ek met 'n stamp in die rug vasgedruk word deur die trok. Natuurlik was ek uit soos 'n kers, en krul daar op die grond van pyn, hulle moes die ambulans laat kom. Die was toe uitgeroep na 'n ander geval en het vir ure weggebly. Die ambulans het oorkant die rivier stil gehou en ons is met 'n boot deur die rivier. Ek het soveel pyn dat hulle my in 'n kombers sit en díe se vier hoeke aan die dak (van die ambulans) vas maak want dit was 'n slegte pad na die hospitaal van die rivier af, vol gate en klippe, die hospitaal was in tente. Die stamp was op my niere en het veroorsaak dat ek met bloeding gesukkel het vir 'n tyd. In die hospitaal het hulle die man in die bed langs my vir 'n blindederm geopereer, toe sê die Dokter ek moet maar anderpad kyk.

      Terwyl ek daar was kom Kapt. Leslie Damant my besoek, ons was skoolmaats, hy was 'n seun van Col. Damant en wie 'n Landdros van Lydenburg was, hy het gehoor van my teespoed en toe my kom besoek ten spyte dat ek 'n rebel was want hy was 'n huisvriend van ons, toe vra hy die verpleegsters om spesiale aandag aan my te gee. Die dag toe ek ontslaan is uit die hospitaal, was ek na 'n begrafnis van een van ons maats.

      Een dag het die wagte ons 'n paar uur ver laat marsjeer somaar die veld in. Daar het ek bang geword vir die woestynsand wat aangewaai gekom het, net soos branders op die see. Toe ons so na 'n plaas kom sê ek vir een van my maats, vandag gaan ons kwepers eet, hy sê, man jy droom, dit is al Meimaand en die tyd is verby toe sê ek dat ek kwepers ruik en ek weet dat in die droë wêreld begrawe hulle dit in die sand. Toe vra ons die wag om ons te laat halt by die plaas om water te drink. Dit was óns mense, toe gesels ons lekker, en praat toe hoe lekker ruik die kwepers. Die eienaar stuur sy seun om gou 'n klompie te gaan haal, toe dit kom gee hy dit aan ons met die versoek om nie vir die wagte daarvan te gee nie want dit is net vir ons mense. Ons het toe daar omgedraai en terug kamp toe, ongelukkig het ek die naam vergeet van die goeie mense.

      In die dorp was daar 'n trouery en een van die dames wat ons in die kamp besoek het nooi drie van ons na die bruilof, hulle het by die owerheid aansoek gedoen om 'n klompie van ons toe te laat om na die bruilof te kom, maar daar was besluit om net drie verlof te gee om onder streng parool te mag gaan. Nou wie van die 300, toe word daar gestem en die volgende word gekies:

Happy v/d Walt, Chris Jankowitz, Dirk Winterbach.

      Dit was 'n deftige bruilof en ons het dit deeglik geniet, Mej. Lombaard se suster wat getrou het. Die bruid se ouers was streng kerk mense en wou nie toestemming gee dat daar gedans word, maar die jong klomp het stilletjies die waenhuis gereed gemaak en 'n fluister telegram vir ons jonges te nooi na die waenhuis. As vreemdes tussen die klomp het ons drie maar ontuis gevoel, toe sien ek 'n nooi wat maar min gevra word, ek skraap my moed bymekaar en gaan maak my buiging. Sy was dadelik op haar bene en daar wals ons, nog 'n paar keer het ek haar gevra, toe kom iemand en fluister in my oor en sê, weet jy dat sy 'n Sap (Suid-Afrikaanse Party, wat pro-oorlog was) is? Ons het verlof net tot sesuur, dan moet ons in die kamp wees.

      Die volgende dag word ons aangesê dat ons sowat 'n klompie myle van die dorp gaan watervoor skoon maak; die hoof van die wag kom ons sê dat daar te min grawe is vir almal, ons moet maar “two man one graaf, one biekie ke-werk, one biekie ke-sit”. Ons het toe in die diep sloot afgeklim, toe sê een van die manne: „Kêrels, sit 'n klomp grawe neer dan gooi ons hulle toe onder die sand.” Ons het so gedoen tot net een graaf oor was. Die wag het dit opgemerk maar stil gebly, toe aan een van die plaasboere daar naby die wenk gaan gee van die hoop grawe onder die sand, natuurlik vir 'n beloning.

      Na 'n paar dae kom daar 'n ander klomp om ons wag af te los. Daar was net een graaf, toe het ons 149 maar daar rond gesit en gelê. Die wag was so opgewonde en vra ons om maar te maak of ons besig is. Toe was hulle verbaas toe die Kaptein van die nuwe wag skree: „Dag kêrels hoe gaan dit met julle” en kom groet ons met die hand, want hy was Kapt. Fanie Schoeman van Rusplaas en ons Lydenburgers se vriend. Hy kom toe en sit tussen ons op die sloot se wal en deel sigarette uit en vertel ons van wat aangaan. Die rede waarom hy moes kom oorneem van die ou wag: twee man het weggeloop; ons het later gehoor hulle het op Klerksdorp, hulle tuisdorp, aangekom.

      Ek moet dit noem: die watervoor het deur 'n boer se opstal geloop; dan verdwyn ons uit die kamp en gaan wei in die kweperlanings. Daar naby was 'n winkeltjie dan kry twee of drie van ons verlof om met 'n wag daarheen te gaan om iets te koop; toe ons oor die bult gaan, gee die wag sy geweer aan ons want hy was bang ons oorweldig hom.

      Toe ons in die dorp kom waar die hoofstraat langs die watervoor verby loop, sien ons 'n offisier op 'n spierwit perd en uitgedos in 'n spierwit pak klere met 'n wit helmet. Een van die kêrels fluister: „Hou my dop.” Toe die offisier verbykom, was hy klaar en gooi die graaf modder teen die offisier se bors. Natuurlik was daar konsternasie, want die offisier skree na wagte om te skiet, en vloek en skel. Hulle probeer toe uitvind wie dit gedoen het met allerhande dreigemente, maar niemand van ons wou verklap nie. So het dit verby gegaan. Kapt. Schoeman en sy manskappe is toe weg om deel te neem aan 'n groot geveg in Duits Suidwes; hy en sy afdeling het glo 'n heldedaad uitgevoer waarvoor die Kommandant al die eer ontvang het, toe was hy baie kwaad. Toe hulle terugkom en voor ons kamp kom skree hy: „Kêrels, hou julle reg, ek kom julle verlos!” Toe word die wag verdubbel, tot die kokke word gewapen en moes wag staan. Ons het later gehoor Kapt. Schoeman is Transvaal toe om aan Generaal Smuts te gaan verduidelik; dié het glo die heuningkwas gebruik en Kapt. Schoeman weer gekalmeer.

      Ons het weer geweier om harde arbeid te doen, toe word ons op 'n kaal stuk grond vasgekeer, sonder enige (be-) dekking en sonder 'n kombers vir vyf dae en vyf nagte sonder iets om te eet. Party was al taamlik bleek en swak, toe kom Kol. van deVenter met 'n hees stem met ons praat en het onder andere gesê „julle edel Afrikanerseuns”, toe skree ek „ja, en ons word barbaars behandel deur Christene!”. Ander het ook hulle gevoelens gelig; daarna word gesoek na dié wat hulle stemme laat hoor het, om na die breekwater in Kaapstad gestuur te word, maar hulle het nie uitgevind wie dit was nie.

      Kort daarna hoor ons dat ons huistoe gestuur gaan word, maar nie almal gelyk nie, klompies, klompies. Ek was aangesê dat ek die volgende dag moet reg wees, natuurlik was ek baie bly en opgewonde, maar my maats (ons was tien in een tent vir maande) kon nie die nag slaap nie. Elke keer as ek kyk hoe laat dit is, sien ek een of ander een regop sit tot almal naderhand regop sit, toe gesels ons maar tot opstaantyd. Ons is in die trein en daar gaan ons. As die trein stilhou in 'n dorp, stap ons so 'n ent met die straat op. Die wat voor my loop skrik geweldig en kyk rond waar is die wag wie “Halt” geskree het, dan lag ons vir die grap as (omdat) daar nie 'n wag is nie.

      Almal was bly dat ons veilig terug is, maar my baas Jan Schwirnk (Schurink?) wou my nie weer terug neem in die winkel, toe het ek gaan goud grawe op Nooitgedag. Een winkelier laat my weet dat ek moet inkom want van sy staf gaan op vakansie en daar is werk vir 'n tyd. Daarna help hy my om 'n slaghuis oor te neem. Mnr. Jan Schwirnk het my woonerf teruggeneem wat ek van hom op paaiemente gekoop het en (nie) verder kon betaal met my tydelike moeilikheid, na ek dertien jaar vir hom in die winkel gewerk het. Toe almal terug was van dié wat met die rebellie weg gestuur was, het 'n goedgesinde deel van ons dorp 'n groot ontvangs gereël en ons daardeur verwelkom.

      Terwyl ek hier besig is met die skrywe, kom hier 'n ou vriendin en vra waarmee ek besig is, en ek vertel haar. Sy sê toe, „haai ek kom nou net van Lydenburg en daar ontmoet ek 'n ou vriend van Jaarsveld. Onder ons gesels kom die rebellie ter sprake en hy vertel my toe die volgende:”

      Van Jaarsveld: „Ek het geweier om wapen op te neem om teen my eie mense te gaan veg, toe stuur die Smutsregering my saam met 'n klomp ander per trein na Booysen se kamp. Op die stasie staan 'n klomp mense. Toe ons verby hulle kom, spoeg ’n vrou op die grond en sê: “Serves you right you dirty Boers”. My hare rys dat my hoed op en af gaan op my kop, want wat kan ek doen. Jare daarna kom dit so dat haar seun en my seun aan 'n boksklub behoort en met 'n kompetisie kom die twee teen mekaar te staan. In die begin het haar seun die beste oor my seun gehad, maar toe dink my seun aan sy Pa se hoed wat so op en af gegaan het jare gelede toe die ander seun se ma op die grond gespoeg het en hom so verneder het, toe klim my seun in en slaat hom dat hy sy Ma nie sal ken nie, en gee nog 'n ekstra hou “for keeps.”

      Nou val nog iets my by wat in Upingtonkamp gebeur het: Die perdesiekte was straf die jaar en die regeringstroepe se perde het by hope gevrek: in 'n paar dae se tyd oor die seshonderd en ons moes help begrawe. Ons het 'n groot gat gegrawe nie dieper as vier voet, as hy vol is dan weer 'n ander een; as die bene uitsteek word dit afgekap. Een van ons maats was uitermate sterk, dan sorg ons om die pikke in die harde grond onder 'n groot klip vas te pik en roep hom, en met 'n paar rukke ruk hy die piksteel af. So het hulle pikstele gebreek dan hoef ons nie te werk nie, want daar was juis 'n tekort aan die stele. Toe het ons rede om te kla, want die brommers was so vreeslik lastig dat hulle in jou neus, mond en ore inkruip. Jy het nie die minste kans om water te drink of te eet nie.