WINTERBACH-SAAMTREK – Augustus 2004


Daar was groot opgewondenheid onder die Weskaap se Winterbachs toe hulle hoor van ’n saamtrek wat gehou sou word. Dié makietie het toe plaasgevind tydens die naweek van 27-29 Aug. 2004 op die plaas van Lukas en Joanie Müller naby Mosselbaai. Kleinberg is een van die oudste plase in die distrik en is geslagte lank al in besit van die Müller-familie (Joanie was ’n nooi Winterbach).

Vroeg Vrydagaand is die vreugdevure aangesteek, en het feitlik dwarsdeur gebrand tot Sondagmiddag. Daar is snoek gebraai, boontjiesop gekook (met interessante bestanddele daarin!), skaap op die spit en potjiekos gemaak – te heerlik! Die jonger geslag het bewys dat hul hande vir niks verkeerd staan nie. Daar was deurentyd tussen 40 en 50 familielede teenwoordig. Die oudste was mnr. Gawie Winterbach (84) van Bredasdorp. Sy seun Tobie en dié se vrou Claudia het van so ver as Pretoria gekom vir die fees. Die kolossale opstal het slaapplek gebied vir ’n groot aantal mense, en dié plek is aangevul deur karavane wat buite laer getrek het. Aangesien die weer so mooi saamgespeel het, kon daar tot laatnag om die vuur gekuier word.

Die Sondagoggend om tienuur was almal op neef Gawie (jr.) se buurplaas bymekaar vir ’n familiediens, gelei deur Tobie Müller. Ná ’n heerlike potjiekosete en ’n fotosessie is daar gegroet met die vooruitsig van ’n volgende saamtrek aanstaande jaar aan die Weskus. Sedert 1985 is daar al verskeie sulke byeenkomste gehou, o.a. op Villiersdorp, in die Sederberge, Laingsburg, Mcgregor en Bettiesbaai.

– Marlene Vermeulen (geb. Winterbach)