Die naweek van 2-4 Nov. 2012 was ’n groot gebeurtenis vir die Winterbachs in die Weskaap, want toe trek die hele ou spulletjie op na die Warmwaterberg Spa naby Barrydale om saam te kuier. Ja, dit was die 15de keer sedert 1983 – wat ’n voorreg en genade.
Ek en my sussie, Susan, en ’n nuutgevonde kleinniggie (of agter-agter-klein.....), Cisca, was vroeg reeds daar om die plek te verken en ons goedjies uit te pak. Dis nou nadat ons die Winterbach- banier teen die uitdraaipad opgesit het as ’n rigtingwyser vir hulle wat nie die pad ken nie – ’n pragtige wapen (2 goue maantjies die lot!)
Stuk-stuk het die familie begin aankom. Karavane, tente, 4x4’s, ou karre, nuwe (DUUR) voertuie, als wat jy aan kan dink. Sommer gou is gegroet en vure begin aansteek; want sien, selfs ’n worsrol is lekkerder as die worsie gebraai is. Die dapperstes het die water gaan toets – warm- en koud. Tot laaat is gekuier en geskerts om die vure.
Die Saterdag is vroegoggend begin met tradisionele boeretroos en beskuit. Daarna is ’n ent gaan stap. Tussendeur het elkeen probeer om die ander beter te leer ken en (skinder) -stories uit te ruil.
Die aand om die potjiekosvure het die grappe vinniger begin rol, en neef Marais seRokken Fooikappiewas ’n wenner......! Daar was ongeveer 35 siele bymekaar.
Sondagmore is op die regte manier begin deur neef Anton wat voorgelees het uit my pa se (2de) boekie
Sierstene uit die Bybel...Daarna is gesing en gebid. Na ’n heerlike braai het ons mekaar gegroet en elkeen weer na sy eie huis vertrek, na ’n genotvolle naweek – tot ’n volgende keer.– Marlene Vermeulen (geb. Winterbach)
Bredasdorp