|
Die Winterbach-geslag stam waarskynlik van die stad
Rothenburg ob der Tauber
, wat aan die „Romantische Straße”
in Duitsland lê. Die oorspronklike woonhuis het die
Winterbach-wapen bokant sy voordeur (die een hierbo) en etlike
skilderye van Winterbachs in sommige van die vertrekke (sien die
Foto bladsy). Vandag is dit 'n bekende hotel,
die Eisenhut .
Die von Winterbachs was (in daardie tyd ten minste!)
van die adelstand en het 'n ereplek in die samelewing beklee. Dit
is om hierdie rede dat daar 'n „von” voor Winterbach geskryf
is. Dit het in 1552 verdwyn nadat Rothenburg hom aan die keiser moes oorgee
(sien die stadsgeskiedenis hier onder).
Hier volg 'n kort geskiedenis van Rothenburg ob der Tauber
- Ongeveer in die jaar 970 n.C.:
- Die Oos-Frankiese adellike met die naam „Reinger” bou
'n kerk in die staddeel Detwang. Hy bou ook die vestings Comburg
by Schwäbisch Hall en Grafenburg op die berghang oor die Tauberrivier.
- 1108
- Die geslag van die Graaf von Rothenburg sterf uit. Graaf Heinrich
bemaak al sy besittings, insluitend die nedersetting Rothenburg, aan
die Comburg klooster. Hierdie skenking word nie deur keiser Heinrich
V. erken nie.
- 1137
- Konrad word die Duitse koning en heers vanuit Rothenburg. Hy laat
Grafenburg oor in die hande van die voogde wat deur hom aangestel is.
- 1172
- Rothenburg verkry stadsregte. Die eerste stadsmuur word gebou, waarvan
die „Wit Toring”, die „Markustoring” en die
„Röderbogen” vandag nog gesien kan word.
- 1250
- Hoeksteenlegging van die Gotiese raadsaal.
- 1274
- Koning Rudolph I verklaar Rothenburg as 'n vrye „Ryksstad”
op 15 Mei. Die stad beleef 'n bloeitydperk en word 'n handelstad.
- 1311
- Bouery aan die St. Jakobskerk neem 'n aanvang (ingewy in 1884).
- 1352
- Rothenburg verkry die onafhanklikheid van die ryk en die „bloedgeregtigheid”
word ingestel.
- 1356
- 'n Aardbewing verwoes albei vestings (Comburg en Grafenburg) tot
stof. Die dubbelbrug word oor die Tauber gebou.
- Om 1400
- Die stad beleef 'n oplewing onder burgemeester Heinrich Toppler,
wie ook terselfdertyd veldmarskalk van die stede Ulm, Nördlingen
en Dinkelsbühl was. Hy vernuwe die Blasiuskapel, herbou die „wildsbad”
en bou vir hom die „Topplerschlößschen”, 'n
klein somerspaleis.
- Om 1408
- Toppler word weens 'n vermoede van sameswering in hegtenis geneem
en saam met sy oudste seun en 'n neef in die kerker onder die raadsaal
toegesluit. Daar het Toppler drie maande later gesterf, maar sy familielede
is begenadig.
- 1501
- Die oosvleuel van die Gotiese raadsaal brand af.
- 1538
- Die eerbare mnre Hornburg en
Winterbach begin hulle te beywer
vir 'n Protestantse reformasie.
- 1552
- Markgraaf Albrecht von Brandenburg-Kulmbach dwing die stad om deel
te wees van die Schmalkaldener Bond teen die keiser. Die markgraaf word
oorwin. Rothenburg moes hom oorgee en 'n enorme bedrag ‘oorlogskade’
betaal.
- 1554
- Die hoofkerk word uiteindelik protestants.
- 1609
- Die stad word deel van die Protestantse Unie. Teen hierdie tyd was
die bevolking streng in klasse opgedeel, met selfs 'n gedragskode
en klereregulasies vir elke klas.
Lede van die „leiersklas” was bv. die burgemeester, adellikes,
aristokrate, die 16 senatore, waarvan die senator Johann
Ludwig Winterbach een was (
lees meer oor hom hier ), die notaris, stadsdokter, superintendent
en die hoërskoolhoof. Hulle is aangespreek as „Vooruitstrewende
Here” (Illustrious Gentlemen).
Lede van die tweede klas was die akademici, predikante, die 48 senatore
van die eksterne raad, die administratiewe hoofde, die patrisiërs
en handelaars.
Die derde klas het bestaan uit die gewone mense, luitenante, prokureurs,
klerke en skribas van die stadsraad, beroemde goudsmede, koperplaatgraveerders,
skilders, horlosiemakers, klokgieters, boekbinders en beeldhouers.
- 1618
- Die Protestantse Unie hou 'n sitting in Rothenburg. Begin van
die 30-jarige oorlog tussen die Katolieke Konfederasie en die Protestantse
Unie. Die stad help betaal aan die onkostes en moet deurreisende soldate
opneem en winterkwartiere tot beskikking stel. Plunderende hordes rig
groot skade in die dorpies aan.
- 1631
- Die Katolieke generaal graaf Tscherklas Tilly verloor 'n veldslag
by Breitenfeld teen die Protestant Gustavus Adolphus van Swede. Omdat
Rothenburg deel was van die Protestantse Unie, beleër die ontstoke
Tilly die stad op 30 Oktober met 60,000 oorlogsgesoute soldate. Vir
drie dae lank het hulle die stad bestook met honderde slingervel-kanonne,
terwyl lere teen die mure geleuen is en die poorte met ramme aangeval
is. Die stadsraad het selfs vrouens en kinders gebruik om die stad te
help verdedig.
Toe, op die 31ste Oktober, blaas die magasyn opmet alles en almal
wat daarin en daarnaby was en laat 'n yslike gat in die muur,
met niemand daar naby om te verdedig nie. Die vorige burgemeester, Nusch,
wat op sy rondtes die skade gesien het, hys toe die wit vlag op die
Galgpoort en gee die stad oor. Tilly se soldate, met die berugte Kroate
aan die voorpunt, het die stad van 'n kant af begin plunder en verbrand,
en al die inwoners het vir hulle lewens gevrees.
In die troonkamer van die stadsaal het Tilly en sy generaals al die
stadsraadslede (waaronder senator Winterbach)
tot die dood en die stad tot verwoesting veroordeel. Om dit te vier,
het Tilly wyn gedrink en nà 'n paar teue in 'n gemoedeliker
stemming oorgegaan. Hy het toe aangebied om die stad en almal daarin
te spaar, as iemand met een teug die beker wyn van 3¼
liter wyn kon uitdrink. Die einste vorige burgemeester Nusch het dit
reggekry, en sò die stad en almal se lewens gespaar. (Daar word
vertel dat hy drie dae later weens alkoholvergiftiging gesterf het!)
- 1648
- Met die ondertekening van die vrede moes die stad nogmaals 50,000
Gulde betaal, wat hulle moes leen.
- 1757
- Op 13 Feb 1757 kom
Johan Carel Winterbach
[ind00001]
in Suid-Afrika aan boord die skip
„Overschie”
aan. Hy is gebore in Cleve, Duitsland op 11 Maart 1734.
- 1802
- Rothenburg verloor sy onafhanklikheid en word by die provinsie Bavarië
ingelyf.
- 1881
- Eerste opvoering van die historiese toneelstuk „Der Meistertrunk”
wat die gebeure om Nusch se redding van die stad in 1631 beskryf.
- 1945
- Die stad word gedeeltelik beskadig deur geallieërde bomme. Die
vroegtydige ingryping deur 'n Amerikaanse generaal verhoed totale
vernietiging van Rothenburg. Gedurende die daaropvolgende jare word
die stad weer opgebou volgens die oorspronklike styl. Finansiële
ondersteuning van die regering en van die buiteland sorg vir 'n
ten volle gerestoureerde stad.
-
|