| Hier volg 'n kort geskiedenis van Rothenburg ob der Tauber- Ongeveer in die jaar 970:
- Die Oos-Frankiese adellike met die naam ‘Reinger’ bou 'n kerk in die staddeel Detwang. Hy bou ook die vestings Comburg by Schwäbisch Hall en Grafenburg op die berghang oor die Tauberrivier.
- 1108
- Die geslag van die Graaf von Rothenburg sterf uit. Graaf Heinrich bemaak al sy besittings, insluitend die nedersetting Rothenburg, aan die Comburg klooster. Hierdie skenking word nie deur keiser Heinrich V. erken nie.
- 1137
- Konrad word die Duitse koning en heers vanuit Rothenburg. Hy laat Grafenburg oor in die hande van die voogde wat deur hom aangestel is.
- 1172
- Rothenburg verkry stadsregte. Die eerste stadsmuur word gebou, waarvan die ‘Wit Toring’, die ‘Markustoring’ en die ‘Röderbogen’ vandag nog gesien kan word.
- 1250
- Hoeksteenlegging van die Gotiese raadsaal.
- 1274
- Koning Rudolph I verklaar Rothenburg as 'n vrye ‘Ryksstad’ op 15 Mei. Die stad beleef 'n bloeitydperk en word 'n handelstad.
- 1311
- Bouery aan die St. Jakobskerk neem 'n aanvang (ingewy in 1884).
- 1352
- Rothenburg verkry die onafhanklikheid van die ryk en die ‘bloedgeregtigheid’ word ingestel.
- 1356
- 'n Aardbewing verwoes albei vestings (Comburg en Grafenburg) tot stof. Die dubbelbrug word oor die Tauber gebou.
- Om 1400
- Die stad beleef 'n oplewing onder burgemeester Heinrich Toppler, wie ook terselfdertyd veldmarskalk van die stede Ulm, Nördlingen en Dinkelsbühl was. Hy vernuwe die Blasiuskapel, herbou die ‘wildsbad’ en bou vir hom die ‘Topplerschlößschen’, 'n somerspaleis.
- Om 1408
- Toppler word weens 'n vermoede van sameswering in hegtenis geneem en saam met sy oudste seun en 'n neef in die kerker onder die raadsaal toegesluit. Daar het Toppler drie maande later gesterf, maar sy familielede is begenadig.
- 1501
- Die oosvleuel van die Gotiese raadsaal brand af.
- 1538
- Die eerbare mnre Hornburg en Winterbach begin hulle te beywer vir 'n Protestantse reformasie.
- 1552
- Markgraaf Albrecht von Brandenburg-Kulmbach dwing die stad om deel te wees van die Schmalkaldener Bond teen die keiser. Die markgraaf word oorwin. Rothenburg moes hom oorgee en 'n enorme bedrag ‘oorlogskade’ betaal.
- 1554
- Die hoofkerk word uiteindelik protestants.
- 1609
- Die stad word deel van die Protestantse Unie. Teen hierdie tyd was die bevolking streng in klasse opgedeel, met selfs 'n gedragskode en klereregulasies vir elke klas.
Lede van die ‘leiersklas’ was bv. die burgemeester, adellikes, aristokrate, die 16 senatore, waarvan die senator Johann Ludwig Winterbach een was (lees meer oor hom hier), die notaris, stadsdokter, superintendent en die hoërskoolhoof. Hulle is aangespreek as ‘Vooruitstrewende Here’ (Illustrious Gentlemen). Lede van die tweede klas was die akademici, predikante, die 48 senatore van die eksterne raad, die administratiewe hoofde, die patrisiërs en handelaars. Die derde klas het bestaan uit die gewone mense, luitenante, prokureurs, klerke en skribas van die stadsraad, beroemde goudsmede, koperplaatgraveerders, skilders, horlosiemakers, klokgieters, boekbinders en beeldhouers.
- 1618
- Die Protestantse Unie hou 'n sitting in Rothenburg. Begin van die 30-jarige oorlog tussen die Katolieke Konfederasie en die Protestantse Unie. Die stad help betaal aan die onkostes en moet deurreisende soldate opneem en winterkwartiere tot beskikking stel. Plunderende hordes rig groot skade in die dorpies aan.
- 1631
- Die Katolieke generaal graaf Tscherklas Tilly verloor 'n veldslag by Breitenfeld teen die Protestant Gustavus Adolphus van Swede. Omdat Rothenburg deel was van die Protestantse Unie, beleër die ontstoke Tilly die stad op 30 Oktober met 60,000 oorlogsgesoute soldate. Vir drie dae lank het hulle die stad bestook met honderde slingervel-kanonne, terwyl lere teen die mure geleuen is en die poorte met ramme aangeval is. Die stadsraad het selfs vrouens en kinders gebruik om die stad te help verdedig.
Toe, op die 31ste Oktober, blaas die magasyn opmet alles en almal wat daarin en daarnaby was en laat 'n yslike gat in die muur, met niemand daar naby om te verdedig nie. Die vorige burgemeester, Nusch, wat op sy rondtes die skade gesien het, hys toe die wit vlag op die Galgpoort en gee die stad oor. Tilly se soldate, met die berugte Kroate aan die voorpunt, het die stad van 'n kant af begin plunder en verbrand, en al die inwoners het vir hulle lewens gevrees. In die troonkamer van die stadsaal het Tilly en sy generaals al die stadsraadslede (waaronder senator Winterbach) tot die dood en die stad tot verwoesting veroordeel. Om dit te vier, het Tilly wyn gedrink en nà 'n paar teue in 'n gemoedeliker stemming oorgegaan. Hy het toe aangebied om die stad en almal daarin te spaar, as iemand met een teug die beker wyn van 3¼ liter wyn kon uitdrink. Die einste vorige burgemeester Nusch het dit reggekry, en sò die stad en almal se lewens gespaar. (Daar word vertel dat hy drie dae later weens alkoholvergiftiging gesterf het!)
- 1648
- Met die ondertekening van die vrede moes die stad nogmaals 50,000 Gulde betaal, wat hulle moes leen.
- 1757
- In hierdie jaar kom Johan Carel Winterbach in Suid-Afrika aan. Hy is gebore in Cleve, Duitsland.
- 1802
- Rothenburg verloor sy onafhanklikheid en word by die provinsie Bavarië ingelyf.
- 1881
- Eerste opvoering van die historiese toneelstuk ‘Der Meistertrunk’ wat die gebeure om Nusch se redding van die stad in 1631 beskryf.
- 1945
- Die stad word gedeeltelik beskadig deur geallieërde bomme. Die vroegtydige ingryping deur 'n Amerikaanse generaal verhoed totale vernietiging van Rothenburg. Gedurende die daaropvolgende jare word die stad weer opgebou volgens die oorspronklike styl. Finansiële ondersteuning van die regering en van die buiteland sorg vir 'n ten volle gerestoureerde stad.
|