Vertellings van DJ Winterbach

 

Onderstaande ondervindings is deur Oom „Rooi” Dirk Winterbach oorvertel aan sy Kinders en Kleinkinders op sy 81ste Verjaarsdag. Oom Dirk is gebore op 7 Maart 1885 in Tulbagh as die seun van Dirk Jacobus Winterbach (geb. 6 Okt 1853) en Maria Magdalena Hougaard (geb. 5 Jan 1862). Hy moet nie verwar word met sy neef Dirk Winterbach wat op 18 Apr 1888 in Lydenburg gebore is as die seun van Johan Carel Winterbach (geb. 11 Des 1850) en Susanna Jocina Malan (geb. 18 Aug 1851) en wat die stuk oor die 1914 Rebellie geskryf het nie.


NOTA: Die stuk is woordeliks hier geplaas soos wat dit oorspronklik geskryf is. Ek maak byvoorbaat verskoning vir woorde wat sommige lesers dalk aanstootlik sou vind, maar só is daar gepraat in die tyd waarin dit geskryf is.


Ek was ’n penkop van 16 jaar, toe Waarnemende Veldkornet Fanie Schoeman, D. Seun, my met ’n geweer en 150 patrone toegerus het. Ek het my eie perd gehad, en daarmee is ek toe op kommando. Dit was in die jaar 1900 rond. Dit was op 23 April 1901 en ons was 12 man bymekaar met die beeste, wat ons seksie mee uitgevlug het, teen die berg uit. Dit was in die Watervalsrivierberg, waar die waterval die berg afval.Dit was die Naudé familie, Oom Charl, en sy drie seuns Piet, Jan en Koos. Die Winterbach’s, Pa en Ek. Die Rabes, Oom Frits en twee seuns Jan en Martiens. Dan was daar nog Stefaans Walters en Hans Schoeman. Die vorige dag het 4 man by ons aangesluit. Hulle was Boet Wil Schoeman, Kootjieman Schoeman, Albert Coetzer en Delport van die Artillerie van Long Tom, na hulle dié opgeblaas het.

Díe oggend vroeg het vier man die perde gaan haal om te spioeneer. Boet Wil was een van díe wat gegaan het. Op daardie oomblik het die kaffers ons alreeds omsingel, en Boet Wil het amper op ’n Kaffer getrap. Hy hol toe weg en die kaffer agterna met ’n assegaai in die lug, reg om te steek. Met die vinnige omspring verloor hy sy hoed, en het dit nooit weer terug gekry nie. Daardie more het Boet Wil gehardloop soos nog nooit tevore in sy lewe nie. Oor klippe en tussen bossies deur, met die kaffer op sy hakke reg om te steek. Stefaans Walters ’n man van 28 jaar, het die kaffer so in die hardloop doodgeskiet agter Boet Wil. Dit was blykbaar die teken wat die kaffers op gewag het, want toe begin hulle rondom ons te skiet. Met díe skiet hulle Walters se arm af. Pa en Oom Charl Naudé het sy arm in alle haas verbind. Dit was sy regterarm bokant die lid. Ons het ons goed verdedig teen die oormag van kaffers, en dit was nie lank nie toe slaan hulle op vlug, maar neem ons perde saam. Dit was kans vir ons om pad te gee na ’n veiliger plek, want dit was ’n menigte van kaffers, Knopneuse en Makatese. Baie was ons eie plaasvolk. Die Engelse het hulle voorsien van gewere om teen die Boere te veg.

Stefaans Walters wou nie saamkom nie. Hy het geglo dat as hy daar bly, hy gouer onder die Rooikruis sal kom. Ek persoonlik het hom gesoebat om saam te kom, maar hy het gesê hy wag vir die Rooikruis. Daar het die kaffers hom gekry, en doodgesteek met assegaaie. Dit was Metchies an Jan Adoons, sy eie volk op die plaas wat hom daar doodgesteek het. Na die vrede het Oom Martiens Steyn sy bene gaan bymekaar maak. In die stukkende klere het hulle nog ’n halfkroon gekry en die vir my ma gegee. Sy het dit aangestuur na sy suster Catharina Jooste in die Kaap. Sy bene is in Lydenburg herbegrawe en sy naam nl. S.P. WALTERS kom voor op die monument op die Kerkplein, wat opgerig is ter ere van die gesneuwelde burgers.

Ons het gevlug na ’n veiliger plek. My Pa, Martiens Rabe en ek is na die rondawels op Olifanshoek, waar die families aan die malaria siek gelê het. Daar aangekom, kry ons my twee jonger broers Chrisjan (15 jaar) en Johan (10 jaar) in ’n treurige toestand van skok, vanweë die kaffers wat die rondawels bestorm het met assegaaie en orals in die rondawels na ammunisie gesoek het. Chrisjan is dieselfde dag oorlede en Johan die volgende dag. Pa en ek en die ou kaffer Jannewarie, het hulle gaan begrawe. Net in komberse toegedraai, want plank vir kiste was nie bekombaar nie. Daar het die kaffers ons gevang. Mich die aanvoerder en kaptein sê ons moet gou maak. Hy vat Pa weg, maar los my om daar te bly om na Ma te kyk, want hulle was in bevel van die hele kloof.

Ons het 7 maande so gebly tot die boere ons daar kom uithaal het. Oom Frans Labuschagne was een van die Kommando. Dit was 5 November 1901. Altesaam was dit 6 moeders met kinders wat uitgeneem is. Onder die kinders was my latere vrou, ’n dogter van Oom Frans Beetge. Sy was destyds 7 jaar oud. Ons is uit Rooikrans toe, met perde, daar het ons die nag geslaap. Met die uittog is 2 van ons burgers gekwes. Een was Piet Breytenbach, en die ander een Isak Berg (Isak Breytenbach) soos hy genoem was. Hy het ’n skoot onder die arms deur, glo ’n naaldbreedte van sy hart af. Hy is gewond waar die pad uitdraai na die ou Badjie. Twee burgers moes hom daarvandaan weerskante ondersteun, en so die lang pad afsukkel Rooikrans toe. Piet is gewond by Olifantshoek se Kerkhof, en Ma het vir hom rou eiers geklits en laat drink vir versterking. Albei was swaar gewond.

Met die uittog Rooiwalshoek uit, voor jy by die Sandhoogte kom, begin die kaffers weer te skiet op ons, dat ons moes vlug na die rivier, en in die rivier op in die ruigte moes trek, met al die vrouens en kleintjies. Daar het ’n opslag koeël Isak Berg vir ’n tweede maal getref voor sy bors dat die blou kol op die bors gesit het. Op Rooikrans het ons die volgende dag na Ou Tante Coetzee met die gekweste manne gegaan, waar ou Dr. Menning sy veldhospitaal gehad het. Ek het self vir Piet Breytenbach soontoe gebring met veerwaentjie en 4 osse. Die families het almal by oom Kalie Viljoen op Morgenson gaan bly waar Ma vir die kinders skoolgehou het. Daar het ons gebly tot dit vrede was.

Daar op Morgenson het ek en ou Nondo, ’n ou Mapogger, met die beeste na Lunsklip se kant toe gevlug. Met die terugkoms kry ons die uitgedroogde halftoegepakte lyk van ’n Engelse Tommie, met pragtige nuwe skoene aan. My eie velskoene was gedaan en ek was maar te bly om die Engelsman se skoene te erf. My broek en baadjie was oorgetrek met vel. Later het Ma vir my ’n egte velbroek gemaak. Die Engelse luise met die stertjie het rooi in die nate gesit. Ek het dan maar my broek uitgetrek. Hom oor ’n klip gesit, en met ’n ander klip hulle almal doodgestamp. Oor ’n paar dae was hulle weer rooi in die nate. Ons het die goed opgetel op die ou kampplekke van die kakies.

Ek het jare later weer my perd en saal teruggekry. Oom Hendrik Grobler het dit by ’n kaffer gekry en my naam was op die saal en almal het my perd geken. Dit was die more gevat toe ons met die voet gevlug het vir die kaffers. Na die vrede het ons die families met twee waens gebring na Lydenburg en in huise van landdros Jansen gebly. Dit was ’n waenhuis en ’n paar kamers. Ons het gelewe uit die Komserlaat. Dit was die store waar die rantsoene uitgedeel was. Hier het ons gebly, tot elkeen se mense gekom het, en weer terug is na hulle plase. Op die plase gekom, was alles verwoes, verbrand en geplunder en moes hulle weer van vooraf huise bou, met dit wat daar op die plaas te vinde was.

Rooi Dirk Winterbach