Uittog na Transvaal vanaf Tulbagh


In 1888 vertrek 6 broers Winterbach, nl. Johan Carel (leier), Dirk Jacobus, Koos, Piet, Louis en Tobias vanaf Tulbagh na Transvaal. Hulle is per trein tot op Kimberley (18 dae) en vandaar per ossewa na Lydenburg wat hulle 6 weke geneem het.

Daarvandaan het 4 van die broers, Johan, Dirk, Koos, Piet en hul families na Barberton getrek waar hulle onder kommandantskap van Johan Carel polisie word. Hulle het ʼn ruk daar gebly en toe is Dirk, Piet en Koos terug na Lydenburg waar hulle toe elk ʼn plaas gekoop het in Watervalsrivier, behalwe Johan Carel wat Distrikskommandant was van Lydenburg, Barberton, Komatipoort en Swaziland. Lees sy geskiedenis hier.

Louis het ʼn plaas gekoop en Tobias het na Heidelberg toe gegaan en het later in die oorlog omgekom.

- Beskikbaar gestel deur Judith Winterbach    

Die onderstaande stuk het ek van Johan ”Bossie” Bosman ontvang. Hy is die seun van Dorothea Elizabeth ”Dorie” Bosman, wie ʼn dogter was van Dirk Jacobus Winterbach en sy vrou Maria Magdalena, gebore Hougaard.
Dirk Jacobus was een van die vyf broers wat in 1888 vanaf Tulbagh na die Transvaal getrek het (sien bo). Sy vrou Maria het haar wedervaringe in hierdie stuk neergepen.

NOTA: Die stuk is woordeliks hier geplaas soos wat dit oorspronklik geskryf is, behalwe vir ʼn paar datums wat ek reggemaak het. Ek maak byvoorbaat verskoning vir woorde wat sommige lesers dalk aanstootlik sou vind, maar só is daar gepraat in die tyd waarin dit geskryf is.

DIE WINTERBACH GESKIEDENIS SOOS GESKRYF DEUR OUMA WINTERBACH EN OORVERTEL DEUR HAAR DOGTER DORIE BOSMAN

Ek wil graag my lesers en leseresse iets vertel van my beproewinge en lotgevalle gedurende die bittere worstelstryd van byna drie jaar. Jammer maar ek het aantekeninge gehou eers in latere jare want my geheue was ook verswak deur al die smart wat ek gely het maar ek sal trag om te verhaal wat nog in my verstand oorbly.

Ek sou eerder met my verhaal begin het maar daar ons lewe na die oorlog met soveel aangename boeke te doen gehad het wat ons gelees het, het ek dit goed geag om ʼn bietjie met my skrywe te wag.

In die woordjie ’oorlog’ lê daar ʼn vreeslikheid opgesluit. Mag God gee dat my oë nooit weer oorlog mag aanskou nie. Ons het hierdie land binne getrek in 1888 vanuit die Kaap Kolonie, distrik Tulbach. Daar is ek op die plaas Roodzandhoek gebore in 1862 en het ek in groot vrede te midde van al my dierbares gewoon en het ek van my 11de jaar op die plaas Tweejongegeselle skoolgegaan.

My ouers was albei vrolik en opgeruimd en so het ek en my ouers gelukkig gebly. Ons was 7 susters en net een broer wat toe nog ʼn jong seun was. In 1878 het ek ʼn lidmaat van die Ned. Gereformeerde Kerk te Tulbach geword en op 27 September 1881 trou ek in dieselfde kerk met Dirk Jacobus Winterbach. Hy was ʼn veespekulant.

Die eerste jare van my getroude lewe was ek meesal alleen. Op die 4de Desember 1883 is ons seuntjie dood gebore. Daar het my vreugde verdwyn en het droefheid en teleurstelling begin. Daarna het ons nog twee seuntjies gehad: Dirk Jacobus en Christiaan Willem. Op die 9de Mei 1887 het my man en een van sy broers na Transvaal gegaan waar hulle in die diens van die berede polisie aangeneem is. Sy oudste broer Johan Carel was toe Kommandant van die Polisie te Barberton. Ek het met my twee seuntjies agtergebly.

My suster en ek het met twee broers getrou. Sy het met Jacobus Petrus getrou, wat saam met my man na Barberton gegaan het. So het my suster en ek saam in een huis gebly. Toe my man weggegaan het, was my jongste seuntjie 7 mnde oud en het ek ʼn verswering in my regter bors gehad. Ag, hoe swaar was die afskeid. Toe verbeel ek my dat my lot tog alte ondraaglik was. Maar dit was maar ʼn paar druppels wat in my beproewingsbeker was. Al my dierbares het my ook so jammer gekry omdat hulle geweet het dat ek van my vroegste jeug af gesond was en baie lewendig van geaardheid en die vrolikste van al my susters was. Aan die sweer in my bors het ek twee maande gely. Dit was toe ook die plan van my man om my Transvaal toe te laat kom.

In Julie het ek toe vir die eerste keer na my siekte Nagmaal toe gegaan. Die woorde van Ds. Pienaar aan die tafel waar ek gesit het was: “Is dit Naomi.” O, hoe het ek gehuil want ek pas toe mos hierdie geskiedenis op myself toe – dat as ek Transvaal toe gaan sou dieselfde lot met my daar gebeur. Almal vra toe hoekom ek so bedroef is maar ek het hierdie woorde in my hart bewaar en waarlik, byna al hierdie dinge het met my gebeur. O, ek kon nie daaraan dink om my geboorteplek te verlaat nie en na ʼn land van bloed en trane te gaan nie. Ek was so bang vir die oorloë en die kaffers want ons het in rus en vrede geleef.

Met my man het dit baie goed gegaan in Barberton. Ek het gereeld briewe van hom gekry. In Oktober het ons almal masels gekry, my twee seuntjies en ek, my suster met haar man en dogtertjies van omtrent 3 jaar oud, asook my ouers. Ons was bevrees vir my vader wat ʼn slegte bors gehad het en ook al oud was. Maar met God se hulp het ons almal weer gesond geword ofskoon ons almal baie siek was, veral my swaer Jacobus, my suster se man en my man se broer.

Daar word toe besluit om na die Transvaal te trek en die gedurige beplanning en besprekings moes toe ʼn werklikheid word. Met die Nuwe Jaar het my ouers en al ons familie betrekkinge na ons huis gekom om vir die laaste keer ʼn afskeidsmaal saam te eet en alles is in gereedheid gebring vir die lang reis, gedroogde vrugte en rosyntjies gemaak want die koue winter in Transvaal was op hande. Ook was beskuit gebak, koffie gebrand en alles wat nog klaar te make was.

Al die tyd het ons ouers getreur oor ons weggaan. My vader het my twee seuntjies en die dogtertjies van my suster baie lief gehad. Meer as een maal het hy my jongste seuntjie opgetel en hom gesoen en dan vir Christiaan gesê: êWil jy dan nou van Oupa weggaan, dan sien Oupa jou mos nooit weer nie?” O, dit was vir my ondraaglik en het ek bitterlik gehuil.

Nog iets het gebeur wat ons baie swaar geval het. Ons suster wat in die Roggeveld gewoon het, het gekom om ons te groet, Mev. J.D. Krige. En daar het haar lieflike seuntjie, haar enigste kindjie van 11 maande baie siek geword en is toe oorlede by ons aan huis. Dit was natuurlik hartroerend. O, die arme suster, hoe het ons saam met haar en haar man gehuil want hulle was bitterlik bedroef. Ons moes vertrek en so het ons gegaan om van al ons dierbares en vriende afskeid te neem. Baie het ons ook by die huis kom groet.

Nou is dit die dag van afskeid. So ʼn dag kan ʼn mens net voel en nie in woorde uitdruk nie. Ag, hoe het ons toe ons dierbares en ons huis verlaat! Van daar moes ons toe ons ouers by ons ouerhuis die laaste vaarwelsoen gaan gee. O, hoe bedroef was ons Moeder toe die rytuig voor die huis stilhou. My vader roep uit, êhier is die lykswa wat ons kinders na die graf toe neem want ek sal hulle nooit weer sien nie” en my gryse vader het hardop gehuil. Ek het hom nooit tevore sien huil nie. Toe hy die drie kindertjies vir die derde keer groet sê hy, êGaan heen in vrede”.

So vertrek ons toe na Tulbach stasie onder ʼn vloed van trane. ʼn Goeie vriend met wie ons saam groot geword het, het ons na die stasie gebring. Daar het baie familie en vriende asook ons enigste broer Christiaan Hougaard ons kom vaarwel sê.

Die 30ste Maart, Vrydagaand om 11uur stoom ons toe met die sneltrein van Tulbach stasie weg. Sondagmiddag die 1ste April om 2uur kom ons in Kimberley aan en daar het ons nog ʼn paar ou vriende van Tulbach gesien asook vriende van ons mans. Daar het ons oorgebly tot Woensdag agtermiddag die 4de April. Ons het ook daar allerhande masjinerie gaan sien

Daar moes ons lank op ons osse wag wat nog van die Vaalrivier moes kom. Ons wa het ons met die trein saamgebring wat op Ceres gemaak was deur Mnr. David Theron. O, hoe vreemd van die sneltrein op die stadige wa met net 12 osse. Ons was altesaam 9 mense op die ossewa. My suster Chrissie, haar man Jacobus (Koos) wat natuurlik met ons saam gekom het met hul dogtertjie Anna, my twee seuntjies en ek, my man se broer Tobias Winterbach, ons neef Carel Hougaard en ons skoonsuster wat met ons saam gekom het om haar oudste seun Johan Carel wat sy 17jr laas gesien het, weer te sien.

Ons almal was heeltemal onbekend met die pad Transvaal toe, maar daar kry my swaer toe ʼn Hotnot wat goed bekend was met die pad van Kimberley na Johannesburg. Hoe bly was ons nie want hy het so goed geweet waar daar goeie weiveld en water vir die osse was. So het ons dan voortgegaan op die ver reis.

Maar ek sal nie lank by die reis stilstaan nie, want soos ek reeds gesê het, was die pad lank en ver en om ʼn dagboek aan te hou moet jou geheue goed en vars wees. Ek kan soms min onthou. O, wat ʼn vervelige reis en die treurigste van alles was die modderige pad. My suster en ek het nog selde of ooit op ʼn ossewa gery, om nie eens te praat van die drie kindertjies nie, wat uit die vrye opelug nou in ʼn nou plekkie opgesluit was. Partykeer wou hulle gladnie stilsit nie en was hulle ongeduldig. Vir hulle straf het ons hulle van die wa afgesit en moet hulle agterna loop, dit was ook goeie oefening vir hulle en dit het ons baie laat lag want dan draf hulle so vining as hulle kon uit vrees dat hulle sou agterbly. Hulle pleit dan weer om opgelaai te word en hulle beloof om in die vervolg soet te wees en stil te sit.

Die tweede aand na ons uit Kimberley weg is, het ʼn vreeslike storm oor ons losgebars en ag, hoe bang was ons nie want my suster, skoonmoeder en ek het mos nie so iets in die Kolonie geken nie. Selfs die mans kon die vreeslike weerligte en harde donderslae nie staan nie. Dit was maar ons deel. Soms het die wa tot by die naaf in die modder vasgesit en kon die osse nie die wa uit die modder trek nie. Die arme mans het vreeslik gesukkel.

Maar dit moet ek sê, soos ons deur die Transvaal gereis het, was die mense uiters gaaf en vriendelik teenoor ons. Hier en daar het ons ook nog vriende ontmoet want destyds het baie mense na die Goudvelde gegaan (Johannesburg). Aangesien tye ook maar sleg was en daar darem vooruitsigte by die Goudvelde was, het ons Hotnot (of Hottentot soos hulle hom genoem het), ons gids, ons toe agtergelaat. Dit het gevoel of ons sonder die skepsel nie verder kon gaan nie.

Alhoewel ons nie meer ʼn gids gehad het nie, het ons toe verder veilig gereis. Nou en dan moes ons ʼn paar dae oorbly om die osse ʼn bietjie rus te gee. Ag en dan was ek erg teleurgesteld want die verlange na my man was toe al so groot dat ek maar net voorwaarts wou gaan. Ons was toe al byna ʼn jaar van mekaar. Op Potchefstroom aangekom, het ons na die Pastorie gegaan om ons gewese leraar ds. C. du Toit te sien wat ons met blydskap ontmoet het. Ons het ook ander vriende daar ontmoet. Toe was dit al teen die einde van April, terwyl ons nog maar altyd deur die modder moes ry. Soms moes ons almal van die wa afklim uit vrees dat die wa sal vasval, toe moes ons almal, drywers, Hoëveld en Biesterveld (osse) dit maar gewaar, want die twee was die agterosse.

Dikwels het ons ook by ʼn rivier gekom wat so sterk was dat ons nie kon deurgaan nie. Die Wilgerivier was nie so sterk en het ook nie so vreeslik gelyk nie. Ek was so bang, ons het almal uitgeroep dat ons nie hier kon deurgaan nie. Gelukkig het ons almal veilig anderkant uitgekom. Baie waens het die dag in die rivier bly staan. Verder het ons dan ook nie teëspoed gekry nie.

Op Middelburg het my swaer Koos ʼn telegram aan my man op Barberton gestuur wat dadelik ons te perd tegemoet gekom het. Ons het toe na die plaas van Mnr. Hercules Malan gegaan waar ons Sondagaand die 13de Mei aangekom het. Die familie was baie vriendelik teenoor ons. Daar het ons gebly tot Dinsdag die 15de Mei. Ons was almal by die wa behalwe my twee seuntjies wat by die huis van Mnr. Malan was en ek. Destyds het ons nog nie kaffers geken nie. Die meide was besig om mielies af te maak. Die swart meide sing toe hulle kafferliedjies dat dit so dreun. Ek het met aandag gestaan en luister want ek het nog nooit so iets gehoor nie. Intussen het my eggenoot by die wa aangekom. My suster het toe haar dogtertjie gestuur om my te laat weet dat my man aangekom het. Maar die Mapokkers het so lawaai dat ek nie ag geslaan het wat die kind sê nie. Mev. Malan sê toe dat ek moet gaan kyk die kind sê my man het gekom. Ek gaan toe na buite en sien ʼn perd staan en ʼn vreemde man. Ek het toe daarheen geloop en wat sou ek sien? Ja, waarlik dit was my man wat ek toe juis ʼn jaar laas gesien het! Ons het mekaar gesoen en ek het toe langs hom gaan sit maar kon my oë nie glo nie. Toe het ek bitterlik begin huil en te skree, ek sien toe dat dit werklik my man was! My skoonmoeder wat natuurlik ook bly was om haar seun te sien, begin my toe te terg en uit te lag, ook die ander het begin lag omdat ek so bly was om my eggenoot te sien, die dat ek so gehuil het. O, maar ek was so baie bly en my jongste seuntjie wat 7 maande was toe sy vader weggegaan het en nou 19 maande was, kom toe nader. Altwee my seuntjies het nie hul vader geken nie. Die jongste kon toe al praat, hulle noem hul vader toe “oom”. So het ons dan Woensdagoggend weer verder gegaan. Twee van ons osse was gedaan en kon nie verder gaan nie en bly toe daar agter en oom Hercules het ons toe twee ander osse gegee om ons ʼn end verder te bring.

So kom ons dan die 18de Mei 1888 Vrydagaand op die plaas Boschhoek aan, een en ʼn half uur van Lydenburg waar sy oudste broer Johan Carel Winterbach gewoon het, hy was die Kommandant. My man het toe ʼn maand verlof gekry. Intussen kom my man se ander broer Pieter J.J. Winterbach ook van Barberton om sy ou Moeder te verwelkom. Sy het hom omtrent 17 jaar laas gesien.

Die 15de Junie vertrek die twee broers, my man en sy broer, weer na Barberton waar hulle in die berede Polisie was. Die 15de Julie het my skoonmoeder, my skoonsuster en ek toe ook Barberton toe vertrek. Daar het ek gebly tot November 1888 op die plaas waarvan ek niks gehou het nie, dit was ook glad nie gesond vir my nie. Daar was ek byna nooit gesond nie. Dit was die sieklikste tyd van my lewe. In November het my man my weer na Boschhoek toe geneem en daar het my suster en ek toe weer saam gebly.

Vier broers Winterbach, (o.a. my man), was in diens van die Polisie tesame met hul oudste broer wat die Kommandant van Polisie was en ook my neef Carel Hougaard (in Barberton). My man het nog in die diens gebly tot Desember 1888.

In die Transvaal word daar sewe kinders vir ons gebore, drie dogters en vier seuns. In die Transvaal was ons oudste dogter die eerste geskenk. Hulle was as volg: Dirk Jacobus, Christiaan Willem, Anna Elizabeth, Johan Carel, Hester Francina, Pieter Hougaard, Izak Carel, Maria Magdalena, Jacobus Petrus. Na die oorlog is ʼn dogter en twee seuns gebore.

Die eerste jare was toe vir ons baie vreemd. Ons moes die geaardheid en maniere van die mense leer ken en ook van die natuur wat so heel anders was as in die Kolonie. Ek sidder en beef nog as dit alles weer by my opkom met al die storms wat ons deurgemaak het. Maar by dit alles het ons spoedig dierbare vriende hier gemaak. Ons het dit hier ook maar bitter moeilik gehad want in 1891 het die sprinkaanplaag uitgebreek waaronder die hele land gely het. Met die sprinkaanplaag en droogte het ons nog ʼn plaas gekoop nl. Olifantshoek in die Watervalsrivier vallei. Met die boerdery het dit toe baie sleg gegaan en ons het soms ter nouernood ons brood verdien en het bowendien groot skulde om te betaal en so het ons voortgesukkel. Gelukkig sonder oorloë tot in 1894 toe die eerste oorlog met die Kaffers van Malboch uitgebreek het. My man wat jare lank aan rumatiek gely het en baie keer in die bed moes bly, is toe deur die dood van ons Veldkornet D.J. Schoeman van sy Kommando diens onthef.

Van toe af het ons maar telkens twis met die Kaffers gehad. In 1896 gebeur die Jameson inval wat baie onrus veroorsaak het. Maar Goddank is hy in sy strooptogte verhinder en met sy bende by Doornkop gevange geneem deur ons dapper burgers. Jammer tog, dat ons Regering so barmhartig was om ʼn moordenaar wat wettiglik die doodstraf verdien het, vry te laat. Dit is beter dat ek by hierdie punt stilstaan.

Kort daarop volg die gevreesde Runderpes. Deur hierdie siekte het duisende beeste gevrek, baie van ons eie beeste is ook dood. Ons President het sy beste probeer om ʼn middel teen hierdie vreeslike siekte te vind. Dit het hom geluk om ʼn middel van inenting met gesoute bloed te vind en so duisende beeste te red. Die sogenaamde êNuwe Regering” het egter niks gedoen om die gevreesde siekte te keer nie. Die nuwe Regering waaronder ons volk gely en gesug het. By hierdie punt sal ek maar weer swyg.

Nog onluste deur die Kaffers soos Ban Machoeba, Jaogie en Mapiet het voorgekom. So het ons maar so te sê altyd met iets te kampe gehad en meer teëspoed as voorspoed gehad. Totdat in 1899 die vreeslike oorlog tussen Boer en Brit uitgebreek het. Van die einde van April 1899 was daar maar gedurig sprake van oorlog en het al die Jingoes allerhande griewe en altyd êoorlog” geskree en al die tyd het ek ʼn vreeslike angs in my hart vir oorlog. Niemand het iets anders as oor die oorlog gepraat nie. Die aand van 28 September 1899 sal ek nooit vergeet nie. ʼn Vriend kom die aand om 10 uur aan ons slaapkamer venster klop en sê: êOom Dirk, die Engelse is op ons grense. Die Kommandeur sal môre vroeg by jou wees en sal ons almal opkommandeer”. Die môre omtrent 2 uur was die mans ook by ons. Toe het ons nie aan verskonings gedink nie want elke ware Afrikaner het dit sy heilige plig geag om te stry vir reg en geregtigheid. Hierdie dag was die burgers almal op die plaas van die Kommandant D.J. Schoeman bymekaar. Die Vrydagaand het my man weer huistoe gekom maar die Saterdagmôre moes hulle almal voorwaarts gaan. Alles was toe in gereedheid gebring vir die groot en plegtige tog, wonderlik! Dit was vir my bitter swaar om my man na die slagveld te sien gaan, maar ek was tevrede want ek wou tog ook dat hulle die groot Magog uit ons land verdryf. Ek kon dit nie verdra dat hulle ons land binnedring nie. Was ek ʼn man, sou ek ook gaan veg het solank ek kon en my wapen nooit aan die Engelse gegee het nie. Dit was ook my gebede dat die Here my man moed sou gee om hom staande te hou. En Goddank die Here het my gebede verhoor en hy het getrou gebly en was byna ʼn jaar hoof korporaal totdat hulle deur die vyand uitmekaar gedryf was en later deur die Kaffers gevange geneem is. Later in my lewensgeskiedenis sal ek meer hiervan vertel.

Saterdag het aangebreek en het ons afskeid van mekaar geneem, nie wetende of ons ooit weer ʼn soen op die lippe sou druk nie. Dieselfde dag het die Kommando perde ruiters vertrek van die plaas van die Kommandant met mond prowisie vir 8 dae, die waens sou agterna kom. So sou ek dan die wa met twee kaffers Maandagaand na die plaas van die Kommmandant neem om die goed van my man daar af te gee. Die weer was die aand swaar en dit het baie gereën. O, hoe swart was dit ook binne my hart.

Ons het baie kaffers op ons plaas gehad maar ons het toe nog op Boschoek gewoon. Ons drie oudste kinders was op skool op die plaas van die Kommandant en ek het alleen met die vier jongste kinders agtergebly. Soos vroeër gesê, het my suster destyds op Pelgrimsrus gebly waar haar man, my man se broer, in die berede Polisie was en ons een seuntjie van 9jr, Christiaan wat daar op skool was. So was die kaffers wat ek vroeër so bevrees voor was, my beskermers. Hul was Mapoch kaffers en baie getrou. Die kaffers het met die wa gebly tot Woensdag môre. Die kaffers was ewe teleurgesteld toe hulle by my kom sê hulle toe: “Alla nooi, die wat na die Engelse toe gaan sal nie veg nie maar die wat agterbly sal met die Secoecoen moet veg want die kaffers is opstandig”. Die oorlog was nog nie klaar nie en die mense het gedink die Engelse sou nie veg nie. Ek het groot geskrik en was baie bedroef en hou my toe sterk om nie voor die kaffers te huil nie. Ek sê toe vir die kaffers: “Ag wat, julle kaffers is maar net bang die Secoecoeners sal wil oorlog maak, laat ons maar fluks wees solank die baas weg is. Alles sal nog reg kom, het julle nie gesien hoe swart alles Maandagaand was nie, dit het gelyk of die son nooit weer sal skyn nie en kyk watter mooi dag is dit vandag. So sal dit met ons gaan, die swaar sal ook verbygaan en ons sal weer mooi en lekker dae kry. Laat ons maar moed hou en fluks wees”.

Dit was toe of die kaffers so bly word en hy sê toe: “Ja nooi”. Maar toe kon ek my trane nie meer inhou nie en loop wenende na my kamer en neem die Bybel wat op die tafel lê, slaan die Bybel oop en meen dat ek in die dierbare Woord troos sal kry vir my bang gemoed. Daar val my oog toe op Jesaja 41:9. “Jy vir wie Ek van die uiteindes van die aarde af gegryp het, van die uithoeke geroep het, vir jou het Ek gesê: Jy is my dienaar, vir jou het ek uitverkies”. Vandaar het ek verder gelees. Waarlik my lesers, dit was waarlik ʼn troos vir ʼn verontruste gemoed. Toe was ek so vertroos en bemoedig dat ek self met die vyand kon gaan veg. Die oorlog met Secoecoen was toe nog soos die teksvers vir my gesê het, ʼn nietige ding.

Die mans was so te sê alleen na die front. Die vrouens het hulle beste gedoen om die plek van die mans in te neem. Dit het ook met die boerdery taamlik goed gegaan, want omtrent elke korrel saad wat gesaai was het vrugte voort gebring. So het elke ware Afrikaanse vrou probeer soveel moontlik alles reg te hou sodat haar man as krygsman sy plig kon vervul. Dit het dan ook regtig goed gegaan.

Van Desember het my man verlof vir 12 dae gekry om huistoe te kom. (Die 11de Oktober 1899 is die eerste slag gelewer deur Genl. Cronjé). Ek het my seun na my buurvrou, Mev. J.C. Jankowitz gestuur om die telegram te gaan haal wat dit elke dag vir my laat kry het van Lydenburg af. Ons verwag toe dat hulle elke oomblik aanmekaar sou spring. My seun klim toe van sy perd af en sê: “Ma, hulle het geveg en ons mans het die Engelse geklop! Hulle het alweer die Witvlag opgesteek”. O, hoe bly was ek toe en het gedink dat dit net so sou gaan soos in 1881 dat die oorlog gou sou oor wees. Nie wetende dat daar nog bittere dae vir ons voorgelê het.

Die oorlog het maar voortgeduur. Ons mans het dapper geveg. Toe het daar met die ongelukkige Scouts nog niks besonders by die huis voorgeval nie. Die kinders en ek het gesond gebly. In Maart het die kinders nie weer skooltoe gegaan nie omdat hulle onderwyser siek was aan die koors. Toe het die skole ook gesluit.

Omtrent die 28ste Mei word die brug by Vereeniging opgeblaas deur ons mense en die Engelse het oor die Vaalrivier getrek en kom so die Transvaal binne. In die begin van Junie was hulle in Pretoria. Ag, hoe teleurgesteld was ons almal toe die Engelse ons Hoofstad in besit geneem het en ons Regering die stad moes verlaat. Nogtans het ons nie moed opgegee nie en het die burgers getrou gebly. Ons het sy aan sy gestaan en het ons nie geswik onder die juk van slawerny van die trotse Farao nie. Verder sal ek nie meer sê nie, want ek is die vrou wat aan julle die oorlog gaan beskrywe.

Sake het ernstig geword en die burgers kon nie meer verlof kry nie om so te sê piekniek te hou en heen-en-weer per spoor te reis nie. Die 15de Julie het twee van ons kinders ernstig siek geword. Ons jongste dogtertjie Hettie van 3jr en ons een seuntjie Johan van 9jr. Ek het medisyne gekry maar dit het niks gehelp nie. ʼn Man wat masels gehad het, was in my huis en 10 dae daarna het ons twee kinders siek geword en so, op ʼn manier kon ek medisyne vir masels kry. Intussen was dit Tifus koors. Ook my kombuismeid het dieselfde siekte gekry. Hulle was lank siek, die dogtertjie was 2 maande siek. Einde Julie het my man verlof gekry toe die kinders siek was. Dit was toe die 3de keer dat hy huistoe gekom het aangesien hy as Hoof Korporaal nie maklik verlof kon kry nie. (Intussen was daar sprake van opstand onder die Secoecoeners en het hulle wagte uitgestuur). My man was toe omtrent vir 5 weke tuis.

Van die begin van Augustus was ʼn groot gewoel op ons plaas. Kommandant Viljoen het met ʼn troep van sy manskappe daar gebly om muile vet te maak. Daar was ook vlugtelinge van Utrecht, Middelburg en selfs uit Natal. Ek het toe ook baie onrustig geword op die plaas. Die Engelse was nie meer vêr van Lydenburg af nie en ons plaas was in die veglinie geleë. Ons bure het al van hul plaas af gevlug behalwe ou Mnr. Jankowitz en sy familie. Ek was toe van plan om my oudste seun Dirk van 15jr na Pelgrimsrus te stuur met ons beeste om daarheen te vlug. Die ander vlugtelinge was ook van plan om daarheen te vlug en ek was so in die middel van die wêreld of ek sy broertjie van 13jr, Christiaan ook moet laat saam gaan. Die mense het toe aan my gesê dat die Engelse al seuns van 12jr weggestuur het. Ag, hoe swaar was dit vir my om die twee kinders van my af te laat weggaan. Die aand was daar ʼn ouderling by my huis. Hy het van Middelburg af gekom. Hy sê toe vir my dat ek nie onrustig hoef te wees nie en as hy my kan raad gee dan moet ek die kind maar by my hou. Hy het ook ernstig saam met my en die twee kinders gebid. Dit was ʼn goeie man, net jammer dat ek sy naam nou vergeet het. Of hy so goed gebly het weet ek nie want daar was so baie verraaiers onder die burgers.

Die volgende oggend, Donderdag, het ek ʼn boodskap van my buurman Mnr. J.C. Jankowitz gekry dat ek maar so gou as moontlik met my beeste moes vlug. Toe het my oudste seun Dirk (15) met twee kaffers met die beeste gevlug. Ek wou self ook na my suster in Pelgrimsrus met die wa gaan. Ek het dit beter geag om nie te gaan nie. Al die vlugtelinge het toe met my seun saamgegaan. Ag, hoe treurig en verlate het ek toe nie gevoel nie, almal rondom my was toe al weg. My seun het tot by die Spekboomrivier gegaan; daar het hy toe omgedraai met die wa en beeste na Olifantshoek, ons plaas in die Watervalsriviervallei. Sondagmôre die 2de September, was dit treurig soos al die mense by my verby vlug; vrouens en kinders, beeste, perde, donkies, ganse, hoenders, ens. Hulle het toe gevlug vir die Engelse wat toe by Krokodilrivier was. My buurvrou Mev. Jankowitz, het my toe die dag nog vir oulaas besoek. Ons het toe op ʼn koppie gaan sit om te sien hoe die Boere en Engelse veg. Dit was vir ons toe baie treurig omdat dit tot dusver nog altyd rustig by ons was en het van geen Khakies geweet nie. Ons kon net ons kanon (Long Tom) hoor en sien werk.

Donderdag, die 6de September, het daar ʼn menigte boere by ons verbygegaan om hulle weer by die Kommando aan te sluit. Donderdag agtermiddag het die Khakies toe Lydenburg gedeeltelik binne gekom, my man het toe na Watervalsrivier gegaan. Baie van die burgers het agtergebly en het nie met die groot Kommando saamgegaan om ʼn leer te vorm nie. In die begin was dit baie treurig, ek het nooit een van ons mense gesien nie. Dit het nie lank geduur nie of ʼn halfuur van my af was ʼn wag van die waarnemende Veldkornet C. Schutte. Toe het ek tog weer iets van ons mense gehoor en ook van ons Kommando’s. Elke dag het ek toe gesien hoe die Khakies spioeneer, klompies op die bult van my buurman Jankowitz en selfs tot by ons huise. Soms het ek gesit en kyk hoe hulle die perde in die koring en hawerlande laat wei en verniel. Die spioene het nie tot by my gekom nie, het maar versigtig agter die randjies geskuil. Ek het toe maar onrustig gelewe en het gevrees dat hulle elke dag sou uittrek; ons plaas het so in die veglinie gelê. Die Khakies het ook niks omgegee waar hulle kanonkoeëls gebars het nie, al was dit ook in die huis want hulle doel was net om dood te maak. So was my lewe vol angs en onrus. My man was eenkeer by die huis want dit was ook maar nie raadsaam om na die huis te kom nie, hulle kon hom maklik vang.

Byna elke Sondag het ek so na die dorp gesit en kyk wat toe so in die hande van die vyand was en het ook maar so aan die ou volk van Israel gedink waar hulle so na Babel weggevoer was. “Aan de rivieren van Babel daar zaten wÿ ook weenden wÿ”, Jes. 137:1. Alhoewel ons in ons land was tog mag ons nie na ons Zion gegaan het nie. Ons leeraar het toe ook al gevlug. Baie vroue en kinders was toe ook gevang in Lydenburg. Later is hulle weer uitgestuur. Ek was dankbaar dat ek nog uit hul kloue was.

Dit was die aand van 2 Oktober. Dit was my gewoonte om elke aand voor ek na die bed gaan, vir die kinders te sê dat ons eers buitekant toe moes gaan om te kyk of daar nie Khakies was nie. My dogter Annie en ek het na buite gegaan. Ons het by die hek van my groentetuin gestaan wat omhein was met draad en ons het gestaan en luister. Toe hoor ek iets vreemds – dit was kompleet of iemand swaar asemhaal. Ek fluister toe vir Annie: “Hoor jy dit ook?” Sy sê toe: “Ja ma”. Agter die hek van my tuin het ʼn makou gesit en broei. Die kat gaan toe juis by ons verby en ek dag toe dat die makou vir die kat geskrik het. Ek het dit weer gehoor net voor ek die huis binnegegaan het. Ek staan toe in die kombuisdeur en hoor toe weer die geluid. Ek kon nie sê of ek bang was nie, maar ag, ek het so sleg gevoel. My kombuismeid het toevallig na haar strooihuis gegaan. Ek stuur toe my seun Christiaan van 14jr om haar en die kaffer te roep. Eers was hy bang om te loop. Terwyl ek nog so daar staan en dink was dit asof iemand meteens vir my sê: “Uw hart worde niet ontroerd, gelooft in God gelooft ook in My”, Joh.14:1. Dit was vir my so wonderlik want van daardie oomblik af was ek gerus en voel of daar niks gebeur het nie.

Ek loop toe na Annie en vra haar of sy nog bang was. Sy het bitterlik gehuil en sê: “Ja ma, ek wil ook nie meer hier op die plaas bly nie, want ek gaan dood van die angs! Hier word ons almal doodgemaak”. Ek vertel haar toe van my gewaarwording en dat ek glad nie meer bang was nie want onder Gods beskerming is ons veilig. Ondertussen het Christiaan en die kaffer en die meid ook gekom. Ek vra toe vir die kaffer met die naam Woem waar bly hulle solank weg en dat ons almal al dood kon gewees het. Hy antwoord: “Alla magtig, wat kom soek Woem hier”, (hy het altyd sy naam genoem) “hy is net soos ʼn meid. Woem het nie eers ʼn geweer of ʼn assegaai nie, sommer die Engelsman of die kaffer kan vir Woem doodskiet”.

Ek sê toe maar vir hom dat niks ons kwaad sal aandoen nie maar hy en Christiaan en die hond moet maar na die groot tuin toe gaan en kyk of hulle nie iets gewaar nie. Ek en Annie neem toe die kat na die makou toe maar sy maak toe gladnie die geluid wat ons gehoor het nie. Die kaffer en die meid is toe terug na hulle strooihuis en ons het gerus gaan slaap. Tot vandag weet ek nog nie waar daardie geluid vandaan gekom het nie of wat dit veroorsaak het nie. Party mense sê dat dit moontlik ʼn duiker was terwyl ander sê dat dit ʼn pofadder kon gewees het. Laat dit wees wat dit wil, ek het daardie aand baie versterk gevoel deur die lieflike teks wat ek nooit sal vergeet nie. So was ek meermale in tye van angs en beproewing versterk en bemoedig wat ek nie nou alles hier kan beskrywe nie. “Wie op den Hoogen God vertrouwd heft zeer op geen sand gebouwd”.

So het ek maar elke dag die Khakies verwag. Ons het ook gehoor dat hulle van plan was om weg te trek want ons wag was toe op Boschhoek se hoogte. Kommandant Schoeman was toe ook daar en die wagte was taamlik sterk.

Die 9de Oktober het Buller met sy leërmag van Lydenburg af weggetrek. Ons het ook gedink dat die Engelse Lydenburg nou finaal verlaat het. Ons brandwagte het elke aand anderkant Boschhoek gestaan. Die 29ste Oktober, die aand, het die Engelse opgetrek tot by die plaas van Mnr. Jankowitz. Daar het hulle Mnr. Happé, die skoonseun van Mnr. Jankowitz, gevang. Hulle het gedink dat hulle baie mense sou vang maar dit het hulle nie geluk nie. Hulle het die nag ook tot naby my huis gekom want die brandwagte was die aand nie op hulle pos nie, party van hulle was toe ook nog by my in die huis. Ek was elke môre teen hoenderkraai wakker maar wat my dié môre makeer het weet ek nie, die môre het ek nie vroeg wakker geword nie. Omtrent skemerdag word ek toe wakker van ʼn harde geklop aan my kamervenster. Ek spring toe op en dag toe dit was ons mense wat maar ʼn grap maak maar hulle sou dit ook nie met vrou alleen doen om my so skrik te maak nie. Ek sê toe die mense moet my nie so vir die gek hou nie! Ek hoor toe mense loop en daar word weer hard aan my kombuisdeur geklop. Dit was toe die Engelse! Hulle kom toe na die voordeur en sê op ʼn wrede toon: “Who is in here?” Ek sê toe vir hulle wie almal binne was en sê toe vir my seun om die deur oop te maak. Toe hy die deur oopmaak staan die Engelsman met sy geweer klaar om te skiet en vra toe aan die kind, “Who is your father?” Hy sê toe dat sy vader nie hier is nie. Die Engelsman antwoord toe dat ek moes buite toe kom, maar ek sê toe dat ek nog besig is om aan te trek. Ek vra hom toe of hy ʼn offisier is. En weer op barbaarse toon sê hy: “Yes I am the officer”. Hy loop weg van die deur en Christiaan kom my toe sê dat daar orals Khakies was. Toe kom daar ʼn jong, vriendelike offisier en vra of hy my huis kan deursoek. Hy het alles deeglik ondersoek en gaan toe na my slaapkamer waar my kinders lê en slaap. Die voetgangers wou toe in die kamer gaan om mans onder die beddens te soek, maar die offisier het hulle dit belet. Hulle soek toe die Boere in potte en ketels asof die Boere duiwels was. Hulle gaan toe weg en toe het die National Scouts gekom.

O, hoe verskrik was ek want nog nooit in my lewe het ek so ʼn leermag gesien nie. Nogtans het ek my ewe koel gehou. Twee Redmans van Natal kom toe om die huis. Een sê toe: “Môre Tante” en ek sê toe “Môre Oom”. Die ander een sê, “Môre tannie” en ek sê toe “Môre oompie”. Ek dag toe as hulle so onbeleef is sal ek my ook so hou. Toe het die kanonne verby gegaan maar ek hou my toe ewe dom en vra wat dit nou is wat hier verbygaan. Hulle antwoord toe op ʼn heftige toon dat dit hulle kanonne is. Ek sê toe ek verwonder my dat die burgers nog kon bly veg aangesien die kanonne meer as die burgers was en dat die burgers sal nie moet oorgee nie. Die een sê toe: “Ons sal hulle maak ingee”. Ek sê toe dat dit mag so wees. Hulle het toe gegaan om al die Boere te vang, so sê hulle maar hulle het hulle vergis. Die Boere het 7 van hul kanonperde doodgeskiet en hoeveel van hul soldate sal ons nooit weet nie. Die Boere het seker meer van hulle doodgeskiet en gewond as hulle van die Boere. Waar hulle weggetrek het, het hulle gedenktekens altyd agtergebly, al was dit dan ook net maar perde.

Om half twaalf was hulle weer terug. Toe kom daar 2 sogenaamde menere Russel en Page van die laagste klas na my huis en sê dat hulle kom om my huis te deursoek. Ek sê dat my huis alreeds ondersoek was en dat ek nie daaraan gedink het om die offisier ʼn bewys daarvan te vra nie. Hulle sê toe dat hulle dit nie kan help nie, dis orders van die Generaal. O, ek is nou nog boos as ek dink hoe hulle my huis omgekrap het, die Uitvaagsels! Ek het nie ʼn naam vir sulke beeste nie. Hulle het onder al die katels en beddens gesoek en deur al my kiste en kaste. Ek vra hulle toe wat hulle eintlik in my huis wil hê want toe was dit of ek nie meer op die grond gestaan het nie. Het ek Simson se krag gehad het ek hulle almal verdelg. Hulle sê toe dat hulle gewere en ammunisie soek. Ek sê dat ek ʼn vrou was en nie vuurwapens in die huis hou nie, dit het my man, dit moet hulle maar by hom gaan soek. Toe was ek nie meer bang vir een Engelsman nie, want as die bloed van ʼn Afrikaner vrou of man eers warm word, loop dit vinnig!

Toe vra hulle my vir my koeie want ek het nog 4 gehad en 2 maer perde. Ek vra hulle toe om tog nie my koeie te vat nie, hulle sê toe weer dat dit die order van die Generaal was en 4 koeie was te veel vir my. Hulle het toe 2 koeie geneem. Toe gaan hulle na die stal en neem die beste perd en gee die maer een aan my seun. Daar kom toe ʼn ander ellendeling wat hoenders, ganse, kalkoene en makoue vir die Generaal moes neem. My pluimvee was opgesluit. Die jong offisier wat die oggend daar was het my aangeraai om my pluimvee op te sluit want die troepe kan moontlik kwaaddoen. Alhoewel ek nie al die pluimvee in die hande kon kry nie was daar tog ʼn goeie klompie opgesluit. Ek sê toe vir hulle dat die Engelse hierdie keer teen vrouens, kinders en pluimvee oorlog maak want hulle kon nie hul sin met die Boere kry nie en nou moet ons dit gewaar. Toe kom ʼn offisier met 4 perderuiters en daar staan ek toe voor die deur soos ʼn prisonier, soos my kombuismeid vir die kinders sê. Hy vra my toe of daar 7 burgers die oggend by my uit die waenhuis gevlug het. Ek sê toe vir hom ek is ʼn vrou en sluit my huis in die nag en weet nie wat aangaan rondom my in die nag nie. Hy sê toe dat hy die Afrikaners nou gladnie meer kan glo nie want die vrouens hou die mans in die huis en laat hulle deur die deure en vensters vlug en sê dan dat hulle niks van hulle af weet nie. Maar dit is ook nie ʼn ware Afrikanervrou wat dit nie vir haar man, alle burgers, landgenote en landsverdedigers sou doen nie.

Daarna het hulle my gevra waar my man was, ek sê toe dat hy op Kommando is. Hy sê toe dat hy my net 8 dae tyd gee om hom te laat kom en oorgee, so nie sal hy my kom haal en my huis aan die brand steek! Ek sê hom toe dat hy dit maar moes doen want ek sal my man nie laat haal nie en hy sal ook nooit so iets lafhartigs doen nie. Toe begin hy met my mooi praat dat ek tog maar die burgers moet oorhaal om hulleself oor te gee want die tyd van reën en onweer kom aan en hulle sal ook graag huistoe wil gaan. Hulle is ook al moeg en dit het hul moeilik geval. Daarop het ek stil gebly en hulle is toe weg.

Ons burgers het toe nog altyd geskiet. Ag, hoe verskrik was ek en die kinders toe hulle die Maxims agter my huis opstel en begin skiet. Skaars was hulle van die huis af of vier Burgers het na my toe gekom en ek het hulle tegemoet geloop by die groot wilgerboom om te hoor hoe dit met hulle afgeloop het. Hulle was warm en moeg en ek het gestuur om vir hulle melk te gaan haal en sê toe as die Engelse weet dat hulle daar was, sal hulle dadelik op ons begin skiet. Gelukkig het die Engelse hulle nie gesien nie. Die Engelse het op ons mense geskiet bo teen die kop sodat die klippe byna by die huis geval het! In die aande het die brandwagte weer na hulle pos gekom. Hulle vra toe vir al die nuuskieriges hoe dinge met my afgeloop het. Hulle het almal gedink dat die Engelse my weggevoer het. Hulle het ook almal gedink dat dit nou baie onveilig daar was. Ek was self ook baie onrustig en wou ook nie meer langer daar bly nie. Ek het ook nie geweet wat om te doen nie want op die plaas waar dit nog veilig was, was daar nie meer leë huise nie en ek het nie ʼn goeie bokseil of tent nie. So moes ek maar nog op die plaas bly.

Op die 11de November het die Engelse ambulans die dogter van Mnr. Izak Breytenbach kom haal. Sy dogter het per ongeluk haar klein sussie se been afgeskiet. Die dokter en Mnr. Redman was toe ook baie vriendelik en het my met ʼn handdruk alle seën toegewens en ten slotte gehoop dat ek my koeie sou terug kry. Die dokter en Redman raai my toe aan om vir Generaal Kitchener te vra om my koeie terug te gee. Hulle sê toe dat hulle ook ʼn bevel gekry het om alles van my te neem. Ek vra toe vir Mnr. Nieuwenhuizen, wat toe net daar was, om ʼn brief vir die Generaal te skrywe. Dit was Saterdagnamiddag. Sondagmiddag kry ek toe ʼn brief wat een van ons rapportryers vir my gebring het en my verwittig dat dit nie in sy mag was om my koeie terug te gee nie, maar dit bevele van Lord Roberts was. Die enigste hoop om my koeie terug te kry is die onmiddellike oorgawe van my man en dit sluit toe ook ʼn oneindige proklamasie van Lord Roberts in. Ek vertaal en lees dit toe voor aan my man wat toe juis by die huis was. Hy sê toe dat hy nie so sleg sal wees om hom vir twee koeie oor te gee nie. Ek was toe so opgewonde en skeur toe die brief stukkend en sê dat waar daardie twee koeie vandaan gekom het, nog twintig sal kom. My man het weer weggegaan en ek het verdrietig en onrustig agter gebly op die plaas en maak toe maar plan om ook weg te kom.

Ek het toe ʼn huis op Beetgeskraal van Mnr. Wessel Davel gekry. Alles is toe in gereedheid gebring en die 17de November, Saterdagaand, het Mnr. Jankowitz met twee waens ons kom haal. Die Brandwagte het ook gehelp om my goed op te laai en half 9 die aand het ons vertrek. Ag, hoe swaar was dit om my dierbare huis te moet verlaat waar ek twaalf en ʼn half jaar gewoon het. Waar ek lief en leed deurgemaak het, die geboorteplek van my kinders. Toe ek die huis verlaat, was ek bitterlik bedroef en het die gedagte by my opgekom of ek en my dierbares ooit weer hierdie gebou sal binnegaan. En wat sal ek nie nog alles moet ondervind. Ek weet ook nie waarheen ek nog met my kinders sal moet vlug nie; moontlik nog in die konsentrasiekamp beland waarvoor ek só bang was en gevrees het. Ek het toe ook met my kinders gepraat en het nie geweet dat my geliefde Christiaan wat langs my gesit het, een van die slagoffers sou wees nie.

“Heer hoe vele blyde dagen vloeiden zander tegen heen,
Zander kommer zander klagen,
als een klare beek daarheen,
Kwelden nimmer leed of zorgen,
Was slechts kort en elken morgen,
Als by Uwe zon verheugt,
Spelt Ze my nieuwde vreugde” – Jesaja 29:4 [sic]

Die nag omtrent 11 uur het ons dan ook op Beetgeskraal aangekom. Ek het die nag omtrent niks geslaap nie want die ganse wat in die kombuis opgesluit was, het ʼn groot lawaai gemaak. Ek was toe weer gelukkig, het die klompie Khakies gesien dag vir dag, maar ook die vriendelike gesigte van ons eie mense en vriendinne wat my kom besoek het. Toe ek 8 dae daar was het my klein seuntjie van 4 jaar, Johan, sy arm gebreek. Ek het so geskrik want nooit het so iets nog met my gebeur nie. In ʼn kort tydjie was ek toe omring deur baie vriende maar niemand kon die arm spalk nie. Toe het hulle ou Mnr. Jacob Malan geroep. Die ou man het toe ook gou gekom en op ʼn heel eenvoudige manier die armpie gespalk. ʼn Stukkie blik is gebuig en styf met lappe omgedraai en die armpie is toe daarin gelê en vasgedraai. Ons het op die oomblik nie ʼn dokter naby gehad nie, hy het eers die vyfde dag gekom. Toe ek van Boschhoek weg is, het al die kaffertjies en meidjies masels gehad en hulle het ook die kinders aangesteek en almal het van hoofpyn gekla. Die een dogtertjie Hettie (9) het die aand ʼn baie kwaai hoofpyn gehad. Terwyl sy bad vra ek haar hoekom sy so rooi in haar gesig is, sy antwoord so ewe bedaard: “Ek weet nie Ma, ek dink ek is uitgeslaan”. Toe sou ek eers weer onthou van die kaffertjies en meidjie wat masels op die plaas Boschhoek gehad het. Ag, hoe bly was ek dat ek nie meer so alleen was nie, en veral dat ek nie meer op Boschhoek was nie en in bereik was van baie vriende en ook ʼn dokter. My arme ou seuntjie het nog die spalk om sy arm gehad toe hy ook die masels kry. Die drie oudste kinders het gelukkig al masels gehad. Die een seun was baie siek en die masels het op sy bors uitgeslaan.

Ons het nou maar in ʼn klein huisie gebly en dit was baie warm. Dit was Desembermaand en my seun het seker ʼn trek gekry. Ek het nie gedink hy sal lewe nie, die Dr. het hom opgegee. Ek het nooit iemand so onafgebroke hoor hoes nie. Hulle was maar almal baie siek maar Goddank Hy het hulle almal gespaar. My seuntjie Christiaan wat op Pelgrimsrus by my suster was om skool te gaan, het ook die 24ste Januarie huistoe gekom maar nie masels gekry nie. Ek het alles mooi skoongemaak en gewas. Hy was net mooi een jaar van die huis af. Daar was groot blydskap toe hy die aand by die huis kom. Dit was nou Christiaan. Ag, ek het nie geweet dat hy maar net 3 maande in sy aardse huis sou bly nie en dan na sy ewige huis sou moes gaan.

Alles was toe taamlik rustig en was dit of daar nie oorlog was nie. Ek kon nie eers daaraan dink om te vlug nie want ons hoor toe almal praat van vrede en almal het daarop gehoop. Toe het groot troepe Engelse na Machadodorp gekom en daar gekampeer. Die algemene gedagte was dat die Engelse van plan was om uit te trek na dié kant van Lydenburg en toe het die mense hulle begin gereed maak om te vlug. Saterdag die 14de Januarie die môre vroeg het my man van die wag na die huis gekom. Ek het by die vernster gesit en was. Toe ek hom sien aankom, hardloop ek na die huis, verwonder dat hy so gou weer huistoe gekom het. Hy was Donderdag by die huis en het nie die gewoonte gehad om so dikwels na die huis toe te kom nie.

Ek vra toe myself af, watter nuus hy vanmôre vir my gaan bring, want ek het dadelik onrustig geword. Ek het langs hom gaan sit en vra hom toe wat tog nou weer die nuus was. Hy vra my toe om tog te bedaar want hy sou my nooit skielik laat skrik nie. “Nee, niks besonder nie”, sê hy. Net dat die Engelse in groot klompe by Machadodorp vergader en die gedagte is maar dat hulle na ons toe sou uittrek. Die mense praat toe almal om hulle families te laat trek, vlug. So kom hy maar net om nuus aan my mee te deel en te hoor wat my plan is. Hy sê toe dat ek weet dat hy nie kan saamgaan nie en dat hy op sy pos as wag moet bly. “Ons het nie ʼn wa, goeie tent of bokseil nie en ek kan jou en die kinders nie op ʼn oopwa laat gaan nie. So sien ek nie ʼn ander plan as jy nie in die hande van die Engelse wil val nie. Jy moet maar na Watervalsrivier, na ons plaas toe teruggaan. Dis nou baie ongesond want dit is koorstyd maar ek kan jou nie ʼn ander veilige plek bied nie”.

Met sy vertrek vra hy my om maar ʼn nag of twee daaroor te dink wat my te doen staan met die kinders. Ek het toe begin huil en sê toe: “Ag my man, ek kan tog nie met ons klompie kinders na die ongesonde plek toe gaan nie”. Hy sê toe dat hy my niks kan aanraai nie want hy was bang vir verwyte. Die volgende dag, Sondag, was ek nog maar van dieselfde opinie want ek was nog maar baie bang vir die koors en het ook nie geweet waarheen nie. Ek het toe na mevv. Nel en Coetzee gegaan om dalk beter nuus te kry en ek dalk nie hoef te vlug nie. Maar daar was ook nie beter nuus nie.

My man het toe darem voorsorg gemaak en die kaffers het ʼn soort van ʼn tentjie op die wa aangebring. Sy broer Piet en sy familie het ook vir die somer Watervalsrivier toe gekom en Saterdag na die heer Karel Broekman gegaan om te beplan waarheen ook sy familie moes gaan. Toe ek Sondagoggend van die vrouens af terugkom was hy ook daar en vra my of ek dan nog nie klaar was nie want sy wa met sy familie was alreeds aan die kom. Alles was nou deurmekaar want soos ek reeds gesê het was ek nie van plan om na Watervalsrivier te gaan nie. Ek het my seun Dirk dadelik na die wagpos gestuur om sy vader te roep. Hy het toe gekom en alles was toe in gereedheid gebring om op die wa te laai. Ons het omtrent 2 uur vertrek. My swaer Piet Winterbach het met ons saam gegaan en my man het na sy wagpos terug gegaan.

Ek was bedroef en swaarmoedig. In ʼn tyd van een jaar het ek van Boschhoek na Beetgeskraal en nou na die Bosveld toe gegaan. Ek het ook ʼn voorgevoel gehad van wat ek daar sou wedervaar. Ons het die aand op Diepgesit by Mnr Lukas Viljoen gaan slaap. Ons het ʼn aangename aand daar deurgebring. Oom Lukas het godsdiens gehou en het liedere met die kinders gesing maar ek kon maar nie getroos word nie. Meer as eenkeer die aand het tant Nella gesê dat sy nog altyd gedurende die oorlog goeie moed gehou het, maar sy weet tog nie waarom sy nou so sleg voel nie. Die arme vrou het ook haar enigste dogter wat sy nog in die huis gehad het net ʼn maand en ʼn half gelede aan die koors afgegee.

Die volgende môre het ons die berg afgegaan na Mnr. Labuschagne onder die berg. Onder die berg het Piet se wa omgeval en gelukkig was niemand op die wa nie. Natuurlik was die tent stukkend en nog een en ander ding. Die middag 12uur het ons by die Labuschagnes aangekom. O, hoe het ek toe gevoel toe ek al die mense aan die koors sien lê. Een dogter van Mnr. Snyders, ʼn vlugteling van Grieqaland Wes het op haar uiterste gelê. Ek sê toe aan my skoonsus Sannie dat ek so bang word as ek die siekes so sien lê en ek met my klompie kinders hier.

Ruwe stormen mogen woeden,
Alles om my heen zy nacht,
God, mijn God zal mij behoeden,
God houd voor mijn heil die wacht,
Moet ik lang zyn heil verbeiden,
Zyne liefde blyft mij leiden,
Door een nacht hoe swart hoe dicht,
Voert Hy in’t ewige licht.
– Ges: 57:7

Ons het toe daardie aand na ons plaas gegaan, eintlik die plaas van my man se broer genaamd Wildebeeshoek, want op die boonste plaas, ons plaas Olifantshoek, was die huis nog nie in orde nie. Ek het toe 3 weke by my swaer en skoonsuster gebly. Daar het dit goed gegaan, albei die families was gesond. Daar was ook baie gepraat van vrede en die verwagting was daar. Op die 6de April het Kommandant Schoeman met party burgers van sy plaas Burgersfort gekom. Daar het die kaffers begin te roof. Die burgers van Watervalvalsrivier het toe bevel gekry om na Burgersfort te gaan. Die 9de April vertrek ek en my kinders toe na Olifantshoek. Ons vriend Stefanus Walters wat ons boerdery daar waargeneem het, was juis ook daar. Daardie aand het hy en ek en die kinders baie aangename gesprekke gehad. Ook baie oor die Kolonie gepraat aangesien hy etlike jare tevore uit die Kaap Kolonie, van Riebeeck Kasteel, gekom het. Hy sê toe dat ons na die oorlog daar moes gaan kuier. Ek voel toe ook bietjie gelukkiger. Maar dit het net ʼn paar dae geduur.

Die 11de April het my man van sy wagpos van Boschhoek af gekom. Ek was só bly en gaan toe weer by hom sit. Ek maak toe nog ʼn grap en sê soos die Engelsman sê: “As happy as the day is long”. Hy sê toe: “Ag vrou, as jy maar gelukkig voel”. My geluk was ook nie so groot soos ek dit gemaak het nie. Daar het so ʼn aaklige voorgevoel oor my gekom dat daar swaar dinge oor ons gaan kom en vir ons voorlê.

Solank ek by my swaer Piet was, was my man ook daar maar hy het so ʼn gevoel gehad, hy kon geen rus vind nie. Hiervan het hy my niks gesê nie. Dit het hy net met Fanie Walters gedeel. Toe ek hom sê dat ek so gelukkig voel, sê hy dat hy besorg voel omdat daar geploeg moet word en hulle moet na Burgersfort gaan om wag te staan. Vrydag die 12de was die ou man Rabie besig om vir my ʼn bakoond te maak. My geliefde twee seuns Christiaan en Johan moes die klippe aandra. Die aand het Johan al gekla van hoofpyn maar ons het nog lustig saam liedere gesing uit die Kinderhoop en Hollandse Halleluja liedere wat hulle by hul onderwyser geleer het. Ag, kon ons maar geweet het dat dit die laaste keer was dat ons saam sou sing, ook met Fanie Walters. Die volgende oggend, Saterdag, het my geliefde twee seuns Christiaan en Johan in die bed gebly.

Christiaan het nog met die melkery gehelp, het weer gaan lê en nooit weer opgestaan nie. Saterdagaaand het ons buurman Charl Naudé na ons gekom. Ons was juis net klaar geëet. Hy vra toe vir my hoekom ek dan so treurig lyk? Natuurlik was ek terneergedruk omdat my kinders so siek was. Hy gaan toe sit en sê aan my man: “Raai wat, raai wat! Die Engelse is in Klipkloof”. O, dit was asof iemand koue water oor my gooi! Ek sê toe, “Ag Oom Charl, wat sal ons tog doen want dit is maar omtrent 2 ure van ons af!”

Hy sê toe dat daar vir ons niks te doen was dan met die vee te vlug nie, (ons hoor toe ook dat die Rapportryer Gabriël Labuschagne ook gevang is) want die klein klompie mense was nie instaat om teen die oormag van die Engelse te veg nie en hulle het toe van alle kante saamgetrek. Toe het ons nie eens geweet dat die kaffers ook teen ons was nie en saam met die Engelse uittrek nie.

Dadelik het ons van ons sogenaamde getrouste kaffers laat roep om met die beeste te vlug. Al die mense het toe die nag met hulle vee gevlug. Al die mense van Watervalsrivier, in ʼn kloof omtrent 1 uur van daar. Die vrouens het toe met hulle kinders tussen die kaffers gebly behalwe omtrent 2 of 3 burgers wat siek was aan die koors. My man het toe nog tot Sondag namiddag gebly. Ons seun Dirk het ook die nag met die beeste gevlug. Maandag en Dinsdag het daar nog mense na ons toe gekom om te kom kyk hoe dit met ons gaan en om lemoene te haal. Maandag het Mev. Rabie gekom om na die kinders te kyk wat so siek was. Dinsdagoggend het ek vir die meid gesê om bietjie na die kinders te kyk want ek wou ʼn bietjie nuus gaan kry en sy was omtrent 10min. van ons af. Nog het ons nie geweet van die lis van swartes nie. My twee seuntjies Pieter en Izak het met my saamgegaan. Toe ek daar was het ʼn oorlamse kaffer van Oom Charl Naudé daar verby gekom want hy woon tussen ons en Mnr. Rabie. Hulle roep hom en hy sê toe dat hy nou-nou weer terug kom, hy gaan net ʼn bietjie tabak haal. Ons het gewag maar hy het nie terug gekom nie. Intussen het Mev. Naudé vir Mev. Rabie laat roep. Ek sê toe dat ek nou maar weer moet teruggaan en sal later nuus hoor. Ek was omtrent 40 treë van die huis af toe ek kaffers hard hoor praat. Ek gaan toe agter ʼn bos staan. Toe ek uitkom, ek is nie seker nie, maar het ek omtrent 8 gewapende kaffers gesien. Mev. Rabie, haar getroude dogter, haar ongetroude dogter en ander kinders het voor die deur gestaan. Ek vra haar toe wat die kaffers sê want ek kon geen kaffertaal verstaan nie, veral nie Makatees nie. Die vrouens was doodsbleek en Mev. Rabie sê toe dat hulle ons mans soek. Ons was vreeslik verskrik! Een van hulle sê vir my dat ons ons mans moet laat kom om oor te gee want daar was vir hulle glad nie kans om te vlug omdat die wêreld oortrek was met Engelse. Hy roep God as getuie.

Nou ja, dit was dan ook die waarheid. Hulle was toe uit op roof en het die huis binne gegaan en geroof en plunder wat hulle kon. Ons het almal begin huil want ons het nie geweet of hulle ons ook almal gaan doodmaak nie. Ons het gevlug maar hulle roep ons terug en sê dat ons nie bang hoef te wees nie en dat hulle ons nie gaan doodmaak nie. Die Engelse het hulle gestuur om ons mans te kom vang. Maar ons het hulle nie geglo nie omdat hulle so listig was want kaffer het altyd hulle oorloë begin om mans te vermoor. So het ons nie geweet wat hulle plan was met ons hulpelose vrouens en kinders nie. Die vrouens het by die kaffers agter gebly en ek het met die twee seuntjies huis toe gegaan, elkeen aan die hand, nie wetende of ek nog kinders lewendig sou kry nie. Ek het bitterlik gehuil, ook my arme kleingoed. Ek loop toe in die warm son dat my tong aan my verhemelte vaskleef. Ek het my verbeel dat ek hulle werlik dood gaan kry en ek gaan ook my dood tegemoet met die ander twee siekes. Maar my angs en vrees was verniet want die Hemel sy dank hulle het nog almal gelewe. Ek het hierdie Psalm vers loop en opsê: “mijne tijden zyn in Uwe Hand, Red mij van mijne vyanden en vervolgers”. Ps. 31:16.

O, my leser en leseresse wat nooit hierdie ondervindings gehad het nie, kan daar geen denkbeeld van vorm nie. Die kaffer wat gesê het dat hy tabak gaan haal, het vir my meid gevra waar haar baas dan was. Nie lank daarna het hulle (die swartes) verby gekom met die beeste wat hulle geroof het. Solank ek by Mev. Rabie was het hulle Mev. Naudé beroof en geplunder en hy het sy vuis onder haar neus gedruk en gesê hy sal so en so met haar maak maar hy is jammer vir haar dogtertjie want sy moet nog sy vrou word. Die aand het Mev Rabie en Naudé met hulle gesinne by my kom slaap, ons was tog so bang vir die kaffers. Hulle het ook al die ander vrouens beroof en geplunder. Ook my swaer Piet en sy vrou. Gelukkig het hulle na my gekom. Die volgende dag het Charl Naudé en B. Rabie na ons toe gekom om te kyk hoe dit met my gaan en ook hulle vrouens. Die kaffers het hulle byna gevang maar hul het dadelik gevlug. My man het ook stilletjies gekom, ons was so bang dat hulle gevang sou word.

Op die plaas van Mev. J. Prinsloo, Bergfontein, bo-op die berg, was daar ook ʼn hele klomp vrouens wat gevlug het, o.a. die van die Kommandant, Ds. Neethling en my buurvrou in die Hoëveld, Boschhoek Mev Jankowitz. Daar het die Engelse ammunisie aan die brand gesteek wat ʼn groot geraas gemaak het. My arme Johan was bang vir die kaffers en Engelse wat toe nog nie by my was nie en vra toe of die Engelse dan kom. Ek sê toe nee, maar is jy bang? Hy sê toe dat hy vir die skietery bang is. Ek sê toe dat hier ook nie van ons mense was op wie hulle kon skiet nie. Ek moet my ook maar altyd sterk hou om hulle nie te laat agterkom dat ek ook maar bang was nie.

Die vrouens het toe met die beddegoed en wat hulle ook al kon saambring na my toe gekom om by my te bly. En toe het die kaffers alles geroof en geplunder. Die vrouens het darem nog bedags na hulle huise gegaan, maar as hulle daar kom dan was daar maar altyd weer goed weg. Die kaffers het toe nog nie by my gekom nie maar ganse, hoenders, varke en eende het hulle in die nag gesteel. Dit was toe ons eie kaffers maar hulle kon dit toe maklik op die Makatese afskuif. Hulle het in elk geval maar met hulle uitgetrek.

My twee siek seuntjies het toe maar so siek gebly, die een dag bietjie beter, die ander dag weer erger. My ou seuntjie Johan wou maar net altyd hê dat ek hom in koue water moes bad. Hy was so swak maar het gesê dat ek hom beloof het om in koue water te bad. By die hitte van die koors was dit nog somer in die Bosveld en bitter warm. Ek sê toe vir hom dat hy tog so benoud word as hy weer so onder die komberse toegewikkel moes word en dan het hy weer koue koors! Dan sê hy maar net: “Ag Ma, maar die koue bad is tog so heerlik”.

Sondag sê ek toe vir die vrouens dat dit dan vandag so stil is, ek het ʼn gevoel dat hul môre weer ons beeste gaan neem. Maandag teen skemerdag hoor ons kleingeweer skote, juis in die kloof waar die mense met ons vee gevlug het. O, hoe bang was ons want ons wis nie of iemand daar ooit lewendig sou uitkom nie. Hulle was maar omtrent 14 man, klein en groot. Die kaffers het van bo van die berg afgestorm en die Engelse was bo-op die berg. Ons mense het so goed as hulle kon geveg maar daar het vir hulle niks anders oorgebly as om te vlug voor die oormag nie. Hulle het toe al ons vee geneem en het Stefanus Walters se regter arm afgeskiet, hulle het toe sy arm so goed hulle kon verbind maar hy wou nie met hulle saamgaan nie. Sy arm was te seer en hy het ook koors gehad. Hy sou daar bly tot die Engelse kom want hulle het ʼn ambulans gehad wat ons mense nie gehad het nie. So het hulle dan uitmekaar gevlug. My man en ons seun Dirk en ʼn seun van Mnr. Rabie het toe na ons huis gekom. Hy het naby die huis uit die bosse gekom omdat hy bang was dat die kaffers hom sou vang. Hy het die twee seuns na die huis gestuur. Eers 9 uur die volgende dag het Oubaas, ons hond, huistoe gekom. So het ons nie geweet hoe dit afgeloop het nie. Die hond was met hulle saam toe hulle met die vee gevlug het. Daarna het die 2 kinders gekom. Ek het hulle toe as’t ware bestorm en vra hulle hoe dit tog afgeloop het. My seun sê toe dat die kaffers al ons beeste geneem het! Oom Stefanus se arm is afgeskiet maar verder was daar niemand wat seergekry het nie, almal het uitgekom! Hy sê toe ook dat sy vader, my man, hier in die nabyheid is.

Mev. Rabie en ek het so ongemerk, sodat die kinders en die meid dit nie agterkom nie, vir my man iets te ete gaan gee. Die aand het hy huistoe gekom om te kyk hoe dit met die kinders gaan. So het ons hom versteek tot Vrydagmiddag omtrent 2-uur. Toe kom daar ʼn groot bende kaffers om hom te vang, daar was vir hom geen ander genade want hy was alleen en moes homself maar oorgee. Die arme twee kinders wat siek was, was so verskrik want hulle het ʼn vreeslike lawaai gemaak as hulle so ʼn menigte bymekaar was. Hulle het mos weer ʼn groot kordaatstuk gedoen - hulle het mos ʼn Boer gevang! Hulle het toe ook die siekekamer binne gegaan en soek toe die boere onder die beddens. Een van hulle het toe nog die geveinsdheid om te sê, “Dag Basies, hoe gaan dit met die Basies?” O, my arme lieflinge was daarna nog meer verskrik en bevrees. Dit was nie ʼn uur daarna nie toe kon ons liewe Johan geen woord praat nie! Tot sy dood geen woord meer gepraat nie en lam aan sy regterkant. Dieselfde dag het hulle menere A. en G. Beetge na Lydenburg geneem want hulle was siek aan die koors. Saterdagmôre het weer ʼn ander rowerbende gekom onder dieselfde sogenaamde Generaal en sê toe aan my man dat hy kos vir nog ander boere gee en dat hy hulle dadelik moet uitbring of hy sou baie swaar kry. Hy vertel hulle toe dat hier nie boere was nie en het ook van geen boere geweet wat hier was nie.

Ek sê toe vir die kaffers dat hulle verniet hier boere kom soek en hulle kan ons maar almal dood maak want dis tog wat hulle wil doen. Ag, ons vrouens was só bang vir die swartes maar het soms tog so boos geword. Een kry daar toe ʼn geweer sonder ʼn slot wat die kinders nog van Boschhoek gebring het, van die kamp van Kommandant Viljoen. Hy vra toe vir my of ek dan nie in die kamp is nie. O, toe is ek blind van woede vir die swarte tater en sê toe dat die kamp op my plaas is. Hy kyk my toe ewe brutaal aan en sê: “Pasop, vreet my net nie op nie!”. Vandaar het hulle net uit die gesig van die huis gegaan en het geskiet dat dit ʼn naarheid was. Ons het gesidder en gebeef want daar lê ons liewe kinders so te sê op sterwe. Ons wis ook nie of hulle ons gaan doodmaak nie en hulle skree: “Hier het ons die Boere en ʼn ander klomp wat anderkant die rivier was”. Ons skree weer: “moet ons nie doodskiet nie!” O, toe het ek nie krag of sterkte in my oor nie. Ek was benoud van alle kante. Ps.118:3 het toe by my opgekom: Aan zÿne liefde is geen einde. My man was toe nog by my omdat die kinders so siek was en hulle hom nog nie weggeneem het nie. Van Saterdagmiddag af kon ons liewe Christiaan ook nie meer praat nie. Ons liewe Johan het toe al swakker geword en op die volgende stil Sondagmôre is hy sag en salig in die Heer ontslaap. Ek kan wel sê ons liefling is warm onder die aarde gelê want hy is om 3 uur vm. oorlede en 9 uur vm. begrawe. My man het toe dit dag was kaffers laat kom om die graf te grawe. Daar was nog kaffers wat ons goedgesind was, maar ons eie kaffers was ook gedwing om met Makatese saam te veg.

O, my lesers, watter lykstoet. Die lykie is deur my vriendinne toegespelde (Mev. Rabie en Naude) in komberse en op ʼn ou leer gerol en deur die kaffers na die graf gedra. Vader en seun Dirk het die lyk gevolg. Ons liewe Christiaan het nog gelewe van Saterdag tot Maandag môre voordag. Toe vra hy vir ʼn bietjie water. My man sê toe, “Ag, hy begin weer praat, moontlik sal hy beter word en sal die Heer hom vir ons spaar”. Die oggend het hy na sy broertjie Johan geroep. Maar Johan was alreeds Sondag begrawe. Sy pa wat van droefheid buite onder die doringboom gesit het, kom toe na binne en Christiaan vra hom hoe dit vanoggend met Johan gaan. Sy Vader sê toe vir hom dat hulle hom na die ander kamer geneem het want hy wou hom nie vertel dat sy broer reeds gesterf het nie. Ek kom toe in die kamer en Christiaan vra toe vir my of ons nog niks weer van Oom Stefanus gehoor het nie. Ek sê toe: “My kind oom Stefanus is by die Engelse en hulle pas hom goed op”. Stefanus was toe ook alreeds oorlede. Hoe het ons ook die dood van ʼn liewe vriend gevoel!

Ek moes my ook maar goed inhou voor hom maar ek kon sien dat hy baie terneergedruk was en reeds agtergekom het dat sy broertjie reeds dood was. Ek het toe ʼn bietjie buite toe gegaan om my uiterste bedroefde hart ʼn bietjie lug te gee en toe gaan ek weer na binne en vra hom toe hoekom hy dan so teneergedruk kyk vanoggend. Hy draai sy kop na die muur en sê “Ma, ek voel net baie swak vanmôre”. Van toe af het hy nie weer ʼn woord gepraat tot sy dood. Hulle het albei beroerte gekry van skrik. Dinsdag môre kry ons toe van swaer Piet se vrou ʼn begrafnisbrief dat hul jongste kindjie, ʼn liewe dogtertjie van 14 maande ook dood is aan die koors. Sy vra toe om my man te vra dat hy die kaffers verlof vra om na haar te kom aangesien hy nog hulle gevangene was. Maar ons geliefde Christiaan het toe op sterwe gelê en sterf toe nog dieselfde aand om 5 uur na ʼn smartlike lyding van 19 dae.

O, ons was stom en kon ons mond nie oop maak nie want die Heer het dit gedoen en met Job kon ons sê: “Die Heer het gegee en die Heer het geneem, die naam van die Here sy geloof”. O, maar ek sal ook soos my oudste suster Mev du Plessis gesê het toe in 1894, 3 van haar kindertjies in 2 dae se tyd gesterf het aan witseerkeel: “Daar hoort Abraham se geloof toe om elke dag sulke offers te gee”.

Die lyk van hierdie dierbare kind was op dieselfde manier graf toe gedra. Al die rampe het toe gelyk op my toegesak, die sterwe van ons dierbare kinders en die gevangeneming van my man, my enigste troos in die dae van bittere droefheid moes toe weggevoer word en ons weet nie eens waarheen nie. Dis wonderlik hoe ek altyd die Heer gevra het om hom moed en krag te gee om staande te bly aan die sy van sy geteisterde land. Sou hy dan in die hande van die vyand moes val hy genade in hulle oë sou vind. En waarlik, die Heer het my gebede verhoor! Die kaffers het hom nog 5 dae na die kinders se dood nog by ons laat bly.

Saterdag môre die 4de Mei, kom een kaffer ewe brutaal, sonder om eers te groet, sê dat my man die volgende oggend moes weggaan terwyl ons almal siek was. Ek sê toe: “Ag, wat sal tog van my en al my siek kinders word as jul my man wegneem?” Die een kaffer lag so ewe lekker, stap agteruit en sê: “Dis mos die Engelsman se skuld”. Die aand het die sogenaamde Kaptein hom laat roep, wat met sy swart bende kampeer het naby die rivier. Ek het toe met hom saam gegaan en daar sien ek toe my makoue wat hulle gesteel het. Ek sê toe dis my makoue. “O, is dit die Nonnie se makoue?” sê hy toe. Maar ek het hulle in elk geval nie terug gekry nie. Hulle het na die swartes se huise gegaan. Sondagoggend is hul toe weg met my man.

Mev. Rabie en haar getroude dogter en haar kinders en Mev. Naudé het toe by my kom bly. Haar twee kinders was te siek om te ry. Hulle het met die bendes saamgegaan bestaande uit: Mev. Broekman en haar dogter, Mev. Du Plessis, Mev. Schoeman en die onderwyser se vrou Mev. De Oude. En o, die mense was almal tog so siek en daarby het die kaffers hulle so beroof en geplunder, hulle het ternouernood ʼn kombers om onder te slaap. Mev. Schoeman het tweeling babatjies van 9 dae oud gehad. O, ek sien die ellende van hierdie arme mense maar ek kon hulle nie versorg nie en bekommer my toe so want hier lê al my kinders ook siek. Toe bly daar omtrent 8 families waaronder mans wat gevang was en te siek om weggestuur te word. Hulle het weggegaan nadat hulle beter was. Daar was toe ook nog ʼn paar sterfgevalle. ʼn Jong man, Mnr. Minnaar het gesterf en die vrouens moes toe die graf grawe. O, watter aaklige toestand! Ag, was ons tog maar dokters of het ons maar ʼn dokter gehad, maar hoe ellendig ons ookal was, ons moes ons siekes versorg want daar was nie ʼn sterfling om ons te help nie. Ons het toe ook nie meer ʼn druppel medisyne gehad nie. Die siekes het maar so op hul genade gelê. Toe nog is al ons kaffers, groot en klein deur hul Kaptein Micha belet om naby ons te kom, hulle was bang ons sou rapporte aan die Boere stuur.

Ons was almal so siek en het niemand gehad om vir ons hout en water te haal, iets uit te was of kos voor te berei nie. Meer as eenmaal het ek gedink dat ek sou sterf en tog moes ons ons siekes versorg. “Wie maar den goeden God laat zorgen ens.”

As ek so aan alles dink dan was dit onmoontlik om dit alles agter ʼn gordyn te verberg. Maar ek sal nie skroom om Engeland se gedrag teenoor ons bekend te maak nie. Ek sal nie stil bly om met die waarheid uit te kom nie, al maak hulle my ook dood! Hulle het alles probeer om ons Afrikaanse volk met wortel en tak uit te roei. Maar hulle is mense van gelyke beweginge as ons en dit het God nie behaag om so iets aan hulle te doen nie. Die vraag het by my opgekom, waarom het ons Afrikaanse volk dan nie reg om te bestaan nie? Die plantjie sal nog moet groei en ʼn groot sierlike boom word. Daarom hoop ek dat hulle lae planne nie sal geluk nie. As die vrouens maar hulle stem uit die konsentrasiekampe wou laat hoor, dan sal dit wel geopenbaar word. Maar hulle het hul ellende versmoor uit vrees vir die Engelse. Wat my betref is ek nie bang nie en is gereed om dit voor Konings en Vorste te beëdig en bevestig want ons Afrikanervolk het al vreeslik onder Engeland gely. Ek wil nie oor die burgers praat nie want hulle is manne en moet hul land verdedig, maar waarom is daar so gehandel met ons vrouens en kinders? Die meeste vrouens is gebruik om hulle leërs te beskerm. Al die vrouens was van hulle plase af geneem en oral met hulle leërs saamgesleep byna sonder kos, klere of komberse. Soms meer as 8 dae lank uit vrees vir die slegte, lafhartige of liewer b…..Boers, soos hulle ons burgers gewoonlik genoem het, want watter opregte man en vader sal hulle vrouens en kinders sommer so laat doodskiet. Hulle was op waens of liewer trolleys gestop en moes dan op die voorposte ry en kon dan onverwags weggevoer word. Dan moes die arme vrouens smeek om ʼn stukkie brood vir hul kinders te kry. Dan is hulle onverhoord soos visse in ʼn blik op die trolleys gegooi. O, die duisende vrouens en kinders wat in die konsentrasie kampe gesterf het, ellendig, dis al wat ek kan sê. Hulle moes van blikkies kos lewe wat 15, 16jaar oud was en ook flou, vrot meelbrood eet. Dit was nie voedsel vir die Afrikaner vrou en kinders nie. Eet hulle die kos dan sterf hulle en eet hulle nie, dan sterf hulle ook. En dan nog opgesluit in die verpeste kampe soos ʼn voël in ʼn koutjie. Honderde grafte by elke kamp getuig daarvan.

Geteken: M.M. Winterbach.


DOGTER DORIE BOSMAN, Neé Winterbach, se bydrae

My Moeder het haar herinneringe van haar lewens-ervarings, veral die van die oorlog baie kort afgesluit. Ons het laas gelees waar hulle onder baie haglike omstandighede, saam met al die vrouens en kinders by haar aan huis plat gelê het aan die koors. Hulle was bevrees en vol angs vir die kaffers wat toe alles daar oorgeneem het. Hoe dit gebeur het weet ek nie, of my vader toe deur die kaffers losgelaat is, maar hulle is toe weer terug na Boschhoek en was toe deur die Engelse aangeval. Daar is op hulle geskiet maar hulle het gelukkig ongedeerd op die plaas aangekom.

Wat ʼn treurige tuiskoms, totaal uitgeroei deur die Engelse en veral die kaffers. Ek as jongste dogter en tweede jongste kind, wil die verhaal van my ouers verder vertel.

Eers wil ek iets omtrent die agtergrond van my ouers vertel. My vader en moeder was albei in Tulbach gebore. My vader is in die jaar 1853 gebore en moeder in 1862. Sy was ʼn nooi Hougaard, ʼn agterkleinkind van Pieter Hougaard wat in 1813 in die Kaap aangekom het. Haar Moeder was ʼn nooi Lombaard. Hulle was 8 kinders. Sy het baie staaltjies vertel van haar vader van haar wat nog ʼn sterk Deense aksent gehad het. Onder andere het die Kapenaars op ʼn keer ʼn baie spoggerige byeenkoms in die Kaap gehad, soos dit destyds die gewoonte was. Haar Oupagrootjie was uitgedos in ʼn manel, streepbroek en hardekeilhoed. Een van die stoute seuns klap toe die hardekeilhoed van sy kop af, en ewe ongeërg vra hy: “Wie heeft dat ketaan?” “Goedeman”, antwoord die seun. Hy sê toe, “As Koedeman dat ketaan had wat zal kwademan dan doen?”

Van haar susters was sy die vrolikste met ʼn goeie sin vir humor wat ons kinders so onderskraag het en in ons familie was humor baie keer die redding uit moeilike situasies. Sy het ʼn goeie opleiding gehad en was tot haar troue ʼn onderwyseres in Tulbach. Onderrig was destyds alles in Engels met Hollands as bytaal. Daarom kon sy kinders goed afrig in Engels wat ons almal goed te staan gekom het. Sy was baie lief vir sing en het die Halleluja in Hollands en die Sanki in Engels geken wat sy latere jare aan ons almal geleer het.

My vader Dirk Jacobus Winterbach was een van 8 seuns en twee dogters. My vader was ʼn veespekulant en trou met my Moeder op 27 September 1881. My vader se oudste broer Johan Carel was toe al jare lank kommandant van Polisie in Barberton. Hy was ook tegelykertyd Distriks Kommandant van Barberton, Lydenburg, Swaziland en Komatipoort. Die gevolg was dat my vader toe saam met twee van sy broers by die berede Polisie aangesluit het terwyl my Moeder en haar suster Chrissie, wie se man ook in Barberton was, agtergebly het in Tulbach. Daar het hulle gebly tot 1888. Intussen het my moeder ʼn stilgebore seuntjie gehad en nog twee gesonde seuntjies nl. Dirk Jacobus en Christiaan Willem. In 1888 het die broers besluit om die familie Transvaal toe te laat kom. My moeder met twee seuntjies en haar suster met een dogtertjie is toe na Transvaal in 1888. Hiervandaan het my moeder begin met haar herinneringe.

Toe my Moeder na Watervalsrivier gevlug het, het hulle 8 kinders gehad: Dirk, Christiaan, Annie, Johan, Hettie, Piet, Izak, en Miemie. Die twee boeties Johan en Christiaan is daar aan die koors oorlede. Nadat almal wat aan die koors gely het herstel het, het hulle besluit om maar terug te vlug na Boschhoek. Boer en Brit was toe nog aan die veg asook die kaffers. Maar hulle het toe veilig onder die geweervuur op Boschhoek aangekom, waar daar darem nog iets oorgebly het nadat Brit en die swartes hulle feitlik van al hul besittings beroof het. In 1901 is die vrede toe gesluit tussen Boer en Brit en Kaffer.

Nou moes ons weer ʼn nuwe begin maak met ʼn familie van 6 kinders. Dis hier waar my Moeder geweier het om na hul plaas Olifantshoek, soos hulle dit genoem het, terug te gaan. Sy het vir my vader gesê dat sy hom van Tulbach af gevolg het maar dat sy nie kans sien om terug na die Bosveld te gaan waar sy twee kinders aan die koors moes afgee nie.

Hulle het toe ʼn stukkie grond van die ander heer Christiaan Jankowitz gekoop nl. Enkeldoorn, sowat 5 myl van Lydenburg af. My broer Dirk, wat toe 18 jaar was, is toe na die plaas in Watervalsrivier gestuur om daar met die boerdery aan te gaan. Op die stuk huurgrond moes ʼn huis gebou word. Hulle moes van heel vooraf begin. My vader het hom toegelê op groente en ʼn groot vrugteboord aangelê. My Moeder het met pluimvee geboer en daar was ook weer vee aangeskaf. Hulle het botter, eiers en groente in Lydenburg verkoop en later ook heerlike vrugte.

Na die oorlog is daar op Enkeldoorn nog 4 kinders gebore, 3 seuns en een dogtertjie. Die oudste van die 3 seuns, Kosie, het net 9 maande gelewe. Die drie kinders Theo, Dorie (ek) en Jan was natuurlik heelwat jonger as die ander 6 kinders. Met die boerdery op Olifantshoek in Watervalsrivier het dit ook mettertyd goed gegaan. My broer Izak het ook later na hy eers skoolopleiding in Lydenburg gehad het, plaas toe gegaan om sy broer Dirk te help.

Sodoende het dit weer finansiël goed gegaan met my ouers en kon die groter kinders op die dorp skoolgaan. My susters Annie, Hettie en Miemie het ná st. 6 huistoe gekom. Hulle het ons 3 jonger kinders feitlik groot gemaak. Saans het hulle ons gebad en aangetrek waarna ons na my Moeder gegaan het en daar aan haar knieë ons gebedjies opgesê het. Baie keer onder trane want my sussie Hettie was maar baie kwaai.

My oudste sussie Annie is toe alreeds in 1908 getroud met Fanie Fouché. Ek was toe maar 2 en kon toe al sing. Jan was ʼn baba en ek het vir hom gesing:

Sjhape, sjhape sjhaap,
Jou Vale it e schaap,
Jou Moele it e mielekat,
Sjhape, sjhape kintie skat.

Die woorde was skeef en krom maar die wysie was suiwer. Theo wat 4jr was moes op die troue op ʼn stoel staan en vir die bruid en bruidegom sing. Omdat Moeder so lief was vir sing, kon ons almal goed sing. My broers Piet, Theo en Jan het dit ook ver gebring en almal goeie sang opleiding gekry. Ek self het baie deelgeneem aan al wat sang was en later jare aan kantates, operettes ens.

Ons het baie gelukkige kinderjare gehad. My ouers was baie lief vir mekaar, ons het hulle nooit ʼn kwaai woord vir mekaar hoor sê nie. Saans handjie-handjie langs mekaar gesit. So sal hul altyd onthou word. Ons het ʼn streng godsdienstige onderrig gekry.

Die enigste kind wat na st. 6 gaan werk het is my broer Piet. Hy het in Barclays Bank in Lydenburg gaan werk en is nie lank daarna na Belfast verplaas wat die hele familie in trane gehad het. Hy moes homself verder bekwaam en het afgetree in Bloemfontein waar hy hoofteller oor 13 werkers was.

Maar in 1914 het die Rebellie uitgebreek. Die meeste Afrikaners het gerebelleer teen die Regering van Jan Smuts wat die mans opgekommandeer het om vir Engeland, in Duits Wes, soos S.W.A. toe genoem is, en in Duitse besit was, te gaan veg. Die Rebelle is na internerings kampe gestuur o.a. Upington waarheen my broer Dirk en swaer Fanie Fouché gestuur is. Daar was ʼn groot stryd tussen Afrikaners en baie onenigheid. Dit was ook die ontstaan van die Nasionale Party.

Ondertussen was daar ook die angs en vrees vir die wat aan die oorlog deelgeneem het, baie het ook gesneuwel. Diegene wat aan die oorlog se kant was, was toe genoem die Suid Afrikaanse party m.a.w. Genl. Hertzog aan die eenkant en Genl. Smuts aan die anderkant. Die stryd was soms bitter en ons kon dit eers jare later verstaan. Intussen het ons ʼn baie gelukkige kinderlewe gehad en saam het ons in die veld gaan loop saam met die hoenders en kuikens groot geword. My broer Theo het feitlik elke veldblom se naam geken en was later ʼn plantkundige.

Dit het tyd geword dat Theo skooltoe moes gaan. My pa het vir hom ʼn donkie gekry om die 5 myl na die skool af te lê tot in Lydenburg. Smiddae moes hy weer huistoe kom en moes ook nuus bring oor die oorlog. Die rebellie het ook aangegaan en Jopie Fourie is doodgeskiet deur ʼn vuurpeleton, Genl. Beyers het in ʼn rivier verdrink. Genl. De Wet en ander van ons groot generals het aan die rebellie deelgeneem. Duits Wes het toe in Engelse hande verval, die 1914-1918 oorlog is beëindig. Die rebelle het uit die interneringskampe terug gekeer. My broer Dirk en swaer Fanie en Christiaan Jankowitz het ook terug gekom. Ons het baie by my broer en suster op Olifantshoek gaan kuier. Ek is ook in 1917 skooltoe. Ek het by my oom Johan Carel en sy vrou tant Sannie op die dorp gebly maar moes elke Maandag saam met Theo en van die bure se kinders dorp toe loop en Vrydag na skool weer plaas toe loop. Soms papnat gereën! Tog was dit heerlike dae.

Toe in 1918 tref die onheil weer ons land. Dit was die jaar wat die Spaanse Griep uitgebreek het. Dit was so genoem omdat, so het die geleerdes destyds gesê, dit die Spaanse vlieg was wat die mense gesteek het. Eintlik was dit die gevolg van die miljoene mense wat in die oorlog gesterf het en dit die hele wêreld se lug besoedel het. By ons in Lydenburg het daar omtrent elke dag ʼn paar mense gesterf.

Intussen het my vader ʼn erf in Lydenburg gekoop en het ons op die dorp gaan bly terwille van ons 3 kinders se geleerdheid. Die griep het sy tol geëis in ons familie. My suster Annie se man Fanie, was die eerste slagoffer die 15de November 1918 en drie dae later het my broer Izak gesterf. Hulle het almal op die plaas Olifantshoek gebly en is langs Christiaan en Johan, my twee broertjies wat aan die koors dood is, begrawe. My ouers wat nooit siek geword het van die koors nie, het van huis na huis gegaan om die siekes te help verpleeg. My susters Hettie, Miemie en ek en my broers Theo en Jan was almal platgetrek maar gelukkg weer gesond geword. So het die lewe op die dorp weer voortgegaan en ons, Theo, Jan en ek het op die dorp skool gegaan.

In 1919 neem die groot Griep my suster Hettie se lewe. Daarna trou my suster Miemie met Christiaan Jankowitz, en was nog net my twee broers en ek saam met my ouers in die huis. Van 13 kinders was daar toe nog net 7 oor: Dirk, Annie, Piet, Miemie, Theo, Dorie (ek) en Jan. Ons het almal matriek voltooi en die twee broers het onderwysers geword en ek het vir 2 jaar onder op De Grootboom skoolgehou. Begin met 6 kinders op die groot stoep van my swaer Chris Jankowitz van die plaas De Grootboom naby Burgersfort. Ek het daar skool gehou terwille van my suster Miemie en swaer Chris se oudste dogtertjie Marie. Hulle het nie kans gesien om haar in die koshuis op die jeugdige ouderdom van 6 jaar te sit nie. Toe daar al meer en meer van die boere se kinders skooltoe gekom het, het hulle ʼn ou leë Indiër winkel vir my reggemaak. Buffelsvlei se skool plus minus 10 myl van De Grootboom af is gesluit en ek kon van die meubels oorneem vir ons skool. So het ek twee jaar gebly tot daar soveel kinders was wat ʼn Goewerment skool regverdig het. Omdat ek nie gekwalifiseerd was as onderwyseres nie, moes ek toe maar padgee en het ʼn sekere Mnr. Broekman kom oorneem. Vandag is De Grootboom ʼn groot Goewerment skool met koshuise en al.

Ek het daarna by die Prokureursfirma Theo Rabie en Roux gaan werk en later by Nic Schoeman Prokureurs. Op die 1ste Junie 1936 is ek met Danie Bosman getroud en my ou vader, toe reeds 84jr, het my nog op sy arm die kerk ingebring. Nog so regop soos ʼn kers.

My vader is op 10 Augustus 1938 oorlede en my Moeder op 20 Januarie 1941.